Johannesburg –

Junaid Adam-Shaik en Stacey-Lee van der Ross word daarvan beskuldig dat hulle hul baba Alaia so erg mishandel het dat sy oorlede is vyf maande ná haar geboorte in 2012.

Die egpaar word nou beskuldig van die moord op ’n tweede baba, Amanee, wat in Desember 2013 gebore is. Sy is drie maande later oorlede.

Beeld berig Alaia se arm was in ’n stadium so erg gebreek dat ’n dokter gesê het haar besering is gelykstaande aan ’n val van ’n verdiepinggebou af. Haar ander beserings het skaafmerke en nog gebreekte bene ingesluit.

Nou het dit aan die lig gekom hul tweede baba, Amanee, is na bewering verwurg.

Die egpaar het glo gevlug nadat hulle gehoor het ’n tweede moordklag gaan by hul klagstaat gevoeg word.

Hulle is op borgtog van R5 000 vrygelaat en moes in Februarie voorgekom het, maar het nie opgedaag nie.

Volgens ’n berig in die Saturday Star in Maart is die polisie in besit van Adam-Shaik se paspoort en het die egpaar se familie nie van hulle gehoor nie.

Die nasionale vervolgingsgesag sê hul borgtog is teruggetrek.

Bron: News24