[caption id="attachment_147692" align="alignnone" width="600"]Foto: WIKIMEDIA Foto: WIKIMEDIA[/caption]

Die man het glo by ’n uitkykplek stilgehou en tolhekpersoneel het die polisie gebel, want hy nie die fooi betaal om die pad te gebruik nie. Toe die polisie aankom, het die man blykbaar weggejaag en teen die berghang afgetuimel. Hy het oorleef, al is hy by die bestuurdersitplek uitgeslinger terwyl die motor gerol het. Chapmanspiekrylaan is kort ná vyfuur vanoggend vir verkeer gesluit terwyl ’n reddingsoperasie van stapel gestuur is.

Met hul aankoms kon die reddingspersoneel nie dadelik vasstel waar die motor is nie weens die terrein en steil kranswand van die pad, sê Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionele Seereddingsinstituut (NSRI).

Twee reddingswemmers is na die kuslyn ontplooi waar hulle die bestuurderlose voetuig sowat 50 m van die waterkant af gevind het.

“Tydens ’n voortgesette soektoeg het die NSRI-swemmers ’n [man] sowat ’n derde van die afstand van die pad af gekry. [Hy] is vermoedelik uit die voertuig geslinger terwyl dit oor terrein en by die berghang af gerol het,” sê Craig.

Die man (32) was die enigste insittende van die motor.

Lees ook: Nóg ’n skokkende video van bedwelmde paartjie met kleuter in hul motor sien die lig

“[Hy] was by sy bewussyn en in ’n stabiele toestand, maar het kopbeserings en snye en kneusplekke opgedoen,” sê Craig.

’n Reddingshelikopter is gestuur om die motoris na veiligheid te help bring.

“EMS-reddings-paramedici het met skerphoekveiligheidstoue en takelwerk van die pad af na die toneel afgesak. Die man is deur reddingsparamedici vir sy beserings behandel en in ’n stabiele toestand is hy op ’n spesiale draagbaar vasgemaak [en] deur die Skymed-reddingshelikopter na die pad opgehys.”

Hy is toe per ambulans hospitaal toe gebring en is in ’n stabiele toestand.

Die polisie ondersoek die saak.

Bron: News24