2013_gravity_movie-wide Beste rolprent

The Counselor

Almal se liefling, Brad Pitt, en die wonderlike Javier Bardem verskyn in hierdie aweregse Ridley Scott-skepping. Dié rolprent, oor ’n prokureur wat betrokke raak by dwelmhandel, het goeie resensies gekry. Ridley se fliek Gladiator is in 2000 as beste rolprent by die Oscars aangewys.

Gravity

Gravity is die gunsteling in hierdie kategorie. Sandra Bullock vertolk die rol van die mediese ingenieur dr. Ryan Stone, wat haar eerste ruimtesending onderneem. Saam met haar is ’n veteraan-ruimtevaarder, vertolk deur George Clooney.

12 Years a Slave

Hollywood is mal oor sulke epiese verhale. Dié rolprent speel af in die 19de eeu en handel oor Solomon Northup, ’n ontvoerde New Yorker wat gedwing word om op ’n plantasie in New Orleans te werk. Dit het ’n goeie kans om benoem te word, en kan dalk wen.

The Wolf of Wall Street

Die regisseur Martin Scorsese en akteur Leonardo DiCaprio is ’n gedugte span. Hollywood het alles verorber wat hulle in die afgelope dekade gemaak het. Ons sal moet wag en sien of hierdie rolprent, oor ’n skelm bankier, die pyp gaan rook.

Captain Phillips Tom Hanks vertolk die hoofrol in hierdie rolprent wat gegrond is op die kaping in 2009 van die MV Maersk Alabama deur Somaliese seerowers. Die regisseur, Paul Greengrass, is bekend vir The Bourne Ultimatum en The Bourne Supremacy, dus verwag ons boeiende aksietonele. Beste akteur

Leonardo DiCaprio (The Wolf of Wall Street)

Net omdat ons mal is oor Leo; hy is altyd skitterend.

Idris Elba (Mandela: Long Walk to Freedom)

Omdat ons so ongelooflik patrioties oor hierdie rolprent is.

Chiwetel Ejiofor (12 Years a Slave)

Sy spel is al as “briljant” beskryf. Dis genoeg vir ons.

Tom Hanks (Captain Phillips) Resensente het sy spel hierin as van sy beste tot dusver beskryf, en hy het nog nie weer ’n Oscar gewen sedert Forrest Gump in 1994 nie. Matthew McConaughey (Dallas Buyers Club) Hy het meer as 22 kg afgeskud om die MIV-positiewe Ron Woodruff te speel. Beste aktrise

Sandra Bullock (Gravity)

Baie glo sy gaan haar tweede Oscar kry.

Cate Blanchett (Blue Jasmine)

Hierdie Woody Allen-fliek oor ’n bedorwe brok van Park Avenue wat alles verloor het, is glo baie besonders.

Meryl Streep (August: Osage County)

Sy het 17 Oscar-nominasies agter haar naam; daar is geen rede waarom sy nie nog een vir haar rol as die wanfunksionele ma Violet Weston kan kry nie.

Emma Thompson (Saving Mr. Banks)

Haar uitbeelding van P.L. Travers, die beheervraat-skrywer van Mary Poppins, is baie goed ontvang.

Bérénice Bejo (The Past)

Sy het vir hierdie rol die prys vir beste aktrise op vanjaar se Cannes-rolprentfees gekry.