Wetenskaplikes sê ’n “bloedmaan” sal op 28 September voorkom wanneer die maan beweeg deur die skadu wat die son op die aarde werp (’n maansverduistering) en dit koperrooi lyk.

Dit sal die vierde “bloedmaan” sedert 15 April verlede jaar wees en Christene, in die besonder Amerikaanse minderheidsgroepe, sê dit sal wêreldwye vernietiging meebring.

Die “bloedmaan” is die vierde en laaste verduistering in ’n tetrad – vier opeenvolgende maansverduisterings, elk deur ses maanmaande geskei – wat die Bybelse voorspelling van die apokalips vervul.

Toe hy sy boek Four Blood Moons van 2013 bemark, het die stigter van die Cornerstone-kerk, John Hagee, van San Antonio, Texas, gesê die tetrad is ’n teken wat deur die Here gestuur word.

“Die komende vier bloedmane dui op ’n aardskuddende voorval wat tussen April 2014 en Oktober 2015 sal gebeur,” het hy gesê.

John, wie se boek verlede Maart negende op die lys topverkopers in Amerika was, en past. Mark Blitz van die El Shaddai-bediening, beweer die bloedmaan op 28 September lui die einde van die wêreld en die wederkoms in.

Hulle, en ander, haal verse uit die Bybel aan om hul vrese te regverdig.

Joël 2:30-31: “Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom.”

Handelinge 2:20: “Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.”

Openbaring 6:12: “(. . .) daar het 'n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword.”

Nasa het die wêreld probeer gerusstel deur ’n verklaring uit te reik dat hul gesofistikeerde moniteringstoerusting niks ongunstig waargeneem het nie.

“Nasa weet van geen asteroïed of komeet wat tans op ’n botsing met die aarde afstuur nie; dus is die waarskynlikheid van ’n groot botsing taamlik gering,” het ’n woordvoerder gesê.

“Trouens, sover ons kan vasstel, sal geen groot voorwerp waarskynlik enige tyd in die volgende etlike honderde jare die aarde tref nie.”

Bronne: News.com.au, The Telegraph