[caption id="attachment_114643" align="alignleft" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Nikkole Paulun (22), wat destyds in ’n seisoen van MTV se gewilde reeks 16 and Pregnant verskyn het, het vroeër vandeesmaand aan haar aanhangers vertel dat haar sesjarige seun, Lyle, haar een keer per maand uitneem vir ete; sy het dit begin doen om hom te leer hoe om vroue te behandel en respek vir hulle by hom te kweek.

“My sesjarige seun vat my een keer per maand uit vir ete. Hy maak deure oop vir my, trek my stoel uit, praat oor sy dag en vra hoe myne was, betaal die rekening met geld wat hy met huistakies verdien het, en hy betaal selfs die kelner se fooitjie.

“Deur dit te doen, leer ek vir hom hoe om ’n dame te behandel en haar op ’n behoorlike afspraak uit te neem. Hoe om te wys hy respekteer die vrou wat hy liefhet (op die oomblik is dit sy mamma). Ons sit ons foon en iPad weg (behalwe om die foto te neem) en praat met mekaar oor ons dag, dinge wat ons wil doen, ens.”

Nikkole verduidelik verder sy leer hom so behoorlike tafelmaniere en dat dit ongeskik is om op jou foon besig te wees op ’n afspraak met jou ma of enigeen.

“Hy leer ook die waarde van geld en hoe om dit te bestuur. Dis nooit te laat om ’n kind te leer hoe om ander te respekteer nie, veral vroue. En as ’n vrou wat al mishandel en soos vuilgoed behandel is, is dit vir my uiters belangrik om my seun te leer hoe om respek te toon.

“Daar is deesdae te veel mans wat nie ’n benul het hoe om vroue te behandel of hulle op ’n lekker afspraak uit te neem nie. Dis lekker om te weet my seun gaan nie een van hulle wees nie.”

Lyle se pa, Joshua Drummonds, het Nikkole destyds in 16 and Pregnant lelik behandel en sy het hom al daarvan beskuldig dat hy haar agter die skerms liggaamlik en emosioneel mishandel het.

Die inskrywing is al meer as 500 000 keer gedeel en byna 3 miljoen aanhangers het tot dusver die “hou van”-knoppie geklik. Daar was ’n paar kritici wat haar daarop gewys het dat alle kinders geleer moet word om ander te respekteer nie, nie net seuns nie, maar die oorgrote meerderheid was vol lof vir haar idee.

BRONNE: mirror.co.uk; huffingtonpost.com; Facebook

Lees ook:

Ons kan nie wag vir dié strokiesprent-flieks in 2016 nie!

Jou bloed kan ’n lewe, dalk drie lewens, red