Sy was besig om haar naels te laat versorg in Seepunt, Kaapstad, toe die voormalige Mej. SA Cindy Nell sien hoe ’n man haar motor nader, buk en die passasiersdeur oopmaak.

A photo posted by Cindy Nell (@cindy_nell) on

Die volgende oomblik het hy Cindy se skootrekenaarsak agter die bestuurdersitplek uitgehaal en doodluiters weggestap.

“Ek het vergeet ek kan vinnig hardloop, maar met krullers in my hare en ’n halwe pedikuur het ek ’n halwe blok agter hom aangehardloop, my skootrekenaarsak van sy skouer afgepluk en selfs daarin geslaag om hom oor die kop te slaan,” het Cindy Donderdag op Facebook geskryf.

Cindy se motor was oorkant die pad van die salon geparkeer, met die venster direk in haar gesigsveld. Eers het sy ’n baie groot ou vrou naby haar kar sien verbystap, terwyl sy diskreet by die venster inloer.

“Ek het gedink dis vreemd,” skryf Cindy.

Tien minute later het ’n man in sy 20’s, van middelmatige bou en goed geklee, haar motor met ’n afstandbeheerder vir ’n hek genader.

Cindy het gesien hoe hy langs haar motor buk, asof hy iets wou optel, maar toe maak hy die passasiersdeur oop, neem die sak van agter die sitplek en stap met haar sak op sy rug weg.

Dis toe dat Cindy hom agternasit.

Nadat sy haar sak teruggekry het en hom oor die kop gemoker het, het sy die aftog geblaas. Twee ander mans is agter die dief aan, maar hy het weggekom.

Op Facebook deel Cindy die lesse wat sy en ander hieruit moet leer:

  • Moenie jou skootrekenaar in die motor los nie. Ons weet dit, maar vergeet soms.
  • Misdaad is oral en niemand word vrygestel nie
  • Die afstandbeheerder- of sluitstelsel-gerug is waar.

“Ek het my skootrekenaar terug en dit blyk dat my hardlopery vrugte afwerp,” skryf Cindy met twee emotikons wat lag dat die trane loop. “Goeie ou Afrikaanse meisie. Hulle maak ons sterk,” vervolg sy.

Nog ’n wenk is dat sy nie konfrontasie of die agternasit van vermeende misdadigers aanbeveel nie. “Soms neem instink oor. Gelukkig het dit goed afgeloop.”

Sy bedank oor die dapper manne wat probeer help het, en Sea Point Security.

“Ons het baie ooggetuies, vingerafdrukke en beeldmateriaal; ons kan hulle dus dalk toegesluit kry,” het sy geskryf.

Lees Cindy se volledige inskrywing hier: