In kommentaar op die ongeouditeerde middel-van-die-maand-brandstofprysdata wat die Sentrale Energiefonds (SEF) bekendgemaak het, sê die AA die rand-dollar-wisselkoers het aan die begin van Januarie vanjaar effens versterk, maar internasionale oliepryse het met ’n veel groter hoeveelheid toegeneem.

Die AA voorspel petrol sal met 44 sent per liter duurder word, diesel met 37 sent en paraffien met 31 sent.

Teen die middaguur op Maandag het die rand op R13,62 teenoor die dollar verhandel en het olie $55,64 per vat gekos.

Die kleinhandelprys van petrol (93 oktaan) het op 4 Januarie vanjaar met 50 sent per liter verhoog en dié van 95 oktaan met 48 sent per liter.

Die groothandelprys van diesel het ook met 39 sent per liter gestyg, terwyl die groothandelprys van paraffien met 43 sent per liter verhoog het.

“Daar is altyd die hoop dat die skerp styging in internasionale pryse nie sal voortduur nie, maar dit lyk onwaarskynlik,” sê die assosiasie.

“Suid-Afrikaners behoort reeds daaraan te dink om enige onnodige uitgawes te besnoei om vir ’n rits stygings in die brandstofprys voorsiening te maak wat oor die mediumtermyn waarskynlik lyk,” maan die AA.

Bron: Fin24