Toe breek die damwal

Deur Joey van Niekerk

Mientjie woon saam met haar pa en ma en ouer broer op ‘n katoenplaas. Al Mientjie se klere is van katoen gemaak. Haar mamma sê katoen is die beste materiaal in die wêreld om klere van te maak. Dit is sag en lig en koel en veilig om te dra. Katoen word ook gebruik om lyn, kleeflint, kerse, film, verf, kook- en slaai-olie, margarien en seep van te maak. Sommer baie ander goed ook.

Mientjie-hulle se plaas lê aan die onderkant van ‘n baie groot dam waar die Limpoporivier opgedam is. Toe die damwal gebou is, het die boonste deel van hulle katoenplaas onder die water verdwyn. Toe het Mientjie se pa maar op die grond aan die onderkant van die damwal nuwe katoenlande gemaak.

Dis vir Mientjie so mooi om te gaan kyk hoe die katoen geplant word en hoe dit groei. Dit groei tot hoër as haar kop. Dan kom daar pragtige wit blomme uit hulle botsels. Die blomme verkleur tot geel, dan pienk, en dan word dit rooi. As die blomblare afval, bly net ‘n saadbol agter. In elke saadbol is daar omtrent 30 sade wat weer geplant kan word. Maar om die sade groei wollerige, wit vesels wat die saad beskerm. As die saadbol ryp is, bars dit oop en ‘n mens sien die wit vesels wat die saad binne-in beskerm. Dit lyk soos watte of wit spookasem.  Dis in dié tyd wat die katoen baie vinnig geoes moet word, want daardie wit bolle “spookasem” word maklik deur die wind weggewaai. Dit is die manier waarop kantoen se sade in die natuur versprei word.

In die oestyd huur Mientjie se pa sommer baie werkers om vinnig te help om al die katoen te oes voordat die wind dit wegwaai.

Vandag is Mientjie saam met haar mamma by die huis. Hulle huis sit hoog teen ‘n koppie. Dis die laaste dag van die oes en hulle maak lekker kos vir die werkers om die oestyd met ‘n fees af te sluit.  Toe al die kos reg is, sê Mientjie: “Mamma, ek wil tot by die damwal stap en van daar af kyk hoe hulle werk. ‘n Mens hoor hulle daar baie goed as hulle so mooi sing terwyl hulle werk.”

“Gaan jy maar solank. Ek wil net gou na die nuus luister, dan kom ek ook,” sê Mamma.

Mientjie stap flink en verkyk haar aan al die mooi dinge in die veld. By die damwal soek sy vir haar ‘n koeltekol agter ‘n groot rots. Sy hoor ‘n visarend wat roep en lag vir die neushoringvoël met sy lang, krom bek wat vir sy kleintjies kos gee in ‘n gat in ‘n boom. ‘n Rukkie later sien sy hoe die visarend op die water afpyl en toe hy weer opskiet, het hy ‘n spartelende vis in sy kloue.

Haar oë dwaal na die damwal toe. Iets is vir haar vreemd, maar eers kan sy nie agterkom wat dit is nie. Toe sien sy dit: Daar is ‘n bars in die damwal en water  stroom daaruit. Sy skrik. Dit beteken die damwal is nie meer sterk nie. Sê nou die wal breek! Sy kyk na die katoenland, ver onder haar, waar haar pa en broer en honderd werkers singend werk. Sy hardloop terug huis toe en skreeu: “Mamma, die damwal het ‘n bars. Dit gaan breek!”

Mamma word spierwit van die skrik. Sy het so pas oor die nuus gehoor dat daar ‘n wolkbreuk hoër op was en dat die Limpoporivier in vloed is. Die vloedwater is nie ver van hulle plaas af nie. As daardie vloedwater die gebarste damwal tref, sal die wal breek en almal op die katoenland sal verdrink.

“Ons moet hulle gaan waarsku, Mamma”, sê Mientjie. Sy begin sommer hardloop.

“Nee, Mientjie! Daar’s nie tyd nie. Ons sal ‘n ander plan moet maak,” keer Mamma haastig.

“Wat kan ons doen?” huil-praat Mientjie. Sy bewe van skrik.

“Ons moet die rondawel aan die brand steek,” sê Mamma.

Die rondawel? Die rondawel word in die middel met ‘n muur in twee verdeel. Die een kant is die kinders se speel- en studeerplek, want die grasdak maak dit lekker koel. Die ander kant is ‘n werkkamer waar melk en vleis bewerk word.

“Brand liewer die peperboom af, Mamma,” pleit Mientjie. “Waar sal ons speel en studeer as die lekker koel rondawel afgebrand het?”

“Hulle sal sien dis ‘n boom wat brand, want hulle kan die peperboom van daar af sien. Maar hulle sal nie kan sien of dit die rondawel of die huis is wat brand nie. Almal sal hierheen hardloop om die brand te blus as hulle dink dis die huis wat brand,” sê Mamma.

Vinnig dra hulle die roomafskeier, die divan  en die boekrakkie met skoolboeke uit die rondawel. Terwyl Mientjie nog die twee stoele uitdra, maak Mamma ‘n fakkel van ‘n lap wat aan ‘n stok vasgebind is. Sy doop die lap in bensien. Sy hou die lap versigtig  ver van haar af toe sy dit aan die brand steek en gooi dit op die grasdak. Die dak brand dadelik. Hulle hardloop na die kant van die koppie toe om te sien of iemand die brand raakgesien het. Eers lyk dit nie so nie, maar toe sien hulle skielik hoe die mense uit die katoenland in hulle rigting begin hardloop.  Toe hoor hulle ook die veraf gedreun van die vloedwater wat in die rivier afstorm . . .

Pa is eerste bo. Die ander mense kom in strome met asems wat hyg aangehardloop.  “Hoe het dit gebeur?” vra hy terwyl hy verslae na die rondawel kyk. Dit lyk nie of hulle die rondawel sal kan red nie.

“Ek het dit aan die brand gesteek,” sê  Mamma.

“Wat het jou besiel?” vra Pa.

“Luister,” sê Mamma.

Toe eers hoor die ander ook die gedruis van die vloedwaters.

Toe klink daar iets ampers soos ‘n kanonskoot.  Die damwal breek. Maar al die mense staan v eilig op die koppie.