Hier is 'n oulike voorlesing van 'n kinderstorie vir jou kleingoed om hulle besig te  hou tydens daardie verveelde oomblikke. Hierdie tweede storie in ons reeks is Ollie Kepollie en die Krokodil deur Amanda Hagymassy.

Hier is die voorlesing van Ollie Kepollie en die Krokodil of lees dit self vir jou kinders:

Ollie Kepollie en die Krokodil

Ollie is baie moeg en dors. Dit voel of hulle al maande aaneen loop en loop en hulle sien nêrens water nie. Hy wil sy mamma vra wanneer hulle dan nou water gaan kry, maar sy tongetjie voel of dit aan sy verhemelte vasplak van droogheid. Hy lig sy slurpie so hoog as wat hy kan en ruik in die lug. Hy ruik nog steeds net die stof wat sy hele familie olifante se reuse voete opskop.

Skielik gaan staan sy hele familie en Ollie loop in sy mamma se bene vas. Hy gaan sit kaplaks op sy boude. Hy proes bietjie van die stof en begin sy mamma vra hoekom almal stilstaan. Sy mamma kyk om en skud saggies haar kop. Sy wil seker hê hy moet stilbly, dink Ollie. Hy sit doodstil en na 'n ruk gaan lê die stof. Skielik ruik Ollie iets. Hy sukkel regop en kan sy oë nie glo nie! Daar voor hulle is die grootste dam water wat hy alooit gesien het! Hoekom gaan drink hulle nie?

Ollie kan aan niks anders as sy droë mond dink nie en storm tussen sy familie se bene deur tot by die water. Hy drink en drink en kan nie glo hoe lekker die water proe nie. Hy draai halfpad om en roep: "Mamma, Ouma, kom drink! Die water is . . . " Skielik begin hy verstik en voel die verskriklikste pyn deur sy voet. Hy ruk en ruk, maar sy voet kom nie los nie. Hy begin gly van die kant af in die dam in. Die bek vol tande wat om sy voet is, trek hom in die water in en wil nie los nie! Hy skop vas, maar die ding is sterk! Ollie begin snik terwyl hy stoei om nie in die water getrek te word nie.

Skielik is daar 'n slurp om sy lyf wat hom help trek. Sy ouma storm verby hom en trap met al twee haar reusevoete op die klomp tande se kop! Sy trap en trap dat jy net tande sien trek! Ollie se voet is uit en sy mamma help hom verder teen die damwal op. Sy hele familie draai om hom en voel of hy reg is. Sy ouma staan op die damwal en trompetter harder as wat Ollie nog ooit gehoor het. Die familie storm in die water in en dit spat in alle rigtings.

Ollie se mamma drink gou 'n paar slukke en kom dan terug om te kyk of Ollie reg is. Hy voel miserabel. Sy voet is baie seer en hy is bang sy mamma raas met hom.

Hy weet hy moes gewag het tot almal gaan drink het, maar hy was so dors. Sy mamma staan so dat hy teen haar kan leun. "Dit, Ollie, was 'n krokodil. Hulle byt vas, trek jou in die water in en verdrink jou voordat hulle jou vreet. Ons het eers gestaan en kyk of ons krokodille sien voor ons water toe gaan."

Ollie snik terwyl hy vir sy mamma jammer sê. Sy mamma begin lag. "Dis alles reg, Ollie, kom ek gaan wys jou hoe lyk 'n krokodil nadat jou ouma hom 'n les geleer het!" Ollie hinkepink saam met sy mamma na die dam toe. Sy voet brand vreeslik en hy bly baie naby aan sy mamma.

Hy stop by die water se kant en staar: Hy kan sy oe nie glo nie! Die groot bek vol tande lê in 'n klomp stukke. Die krokodil se lyf is so plat soos 'n pannekoek! Sy ouma roep hom in die water in: "Kom Ollie, ou grootvoet hier sal jou beskerm."

Sy mamma gesels met sy ouma terwyl hy tussen hulle in die water speel. "Die tweebeendiere moet ma vra om hulle te help krokodille vang en plattrap! Ek hoor hulle maak nuwe voete van die krokodilvelle. Ek wonder hoekom enige iemand sulke lelike voete wil hê?"

Ollie spits sy ore. Tweebeendiere? Wat is dit? Hoekom wil hulle nuwe voete he? 'n Stroom koue water tref hom teen die kop. "Nee, Ollie Kepollie! Ek sien al klaar daar broei weer duisende vrae in jou kop. Niks meer avonture vir jou vandag nie."

Sy mamma ken hom te goed! Sy help hom uit die dam en hy gaan staan in die koelte van die bome om te rus. Sy voet klop van die pyn, maar toe sy oë toeval, droom hy van tweebeendiere met krokodilvoete.

Ollie skrik wakker. Sy kop voel snaaks en alles rondom hom beweeg. Sy mamma probeer snaakse tweebeendiere keer om naby hom te kom. Hy wonder waar is sy ouma en die ander olifante, maar hy sien hulle nêrens nie. Hy probeer na sy mamma toe loop, maar hy val kadoems dat die stof so staan. Sy mamma val ook om. Wat gaan aan? wonder Ollie bang. Hy kan nie opstaan nie en die tweebene kom vat aan sy voet. Dis baie seer.

Hy begin huil en sê: "Los my! Moenie my voete ook vir julle vat nie! Asseblief, ek wil my mamma hê!" Ollie probeer hard om wakker te bly, maar hy kan nie.

Hy word wakker en dink hy droom toe hy sy mamma se slurp voel. Sy oë vlieg oop en hy sien eerste sy voete is nog vas aan sy lyf! Hy lag. "Mamma, hulle het nie my voete gevat nie!"

Sy mamma kyk snaaks na hom en sê: "Wat op aarde laat jou dink hulle wil jou voete hê, Ollie? Hulle het jou voet gedokter dat dit gesond kan word." Ollie sien dat sy mamma nie verstaan nie, maar sy het dan gesê die tweebene gebruik die krokodille vir voete. Hy is baie bly dat hy nog sy voete het!

Hy staan versigtig op en sy voet voel baie beter. "Kom Ollie, ons moet vinnig maak, die ander het lankal geloop."  Hy loop versigtig, maar baie gelukkig agter sy mamma aan.

Deur Amanda Hagymassy