Om jou kinders na ‘n wonderlike storie te laat luister of dit self saam met hulle te lees, is ‘n bederfie waarvan jy nooit té veel kan gee nie. En die voorlesing van ‘n mooi storie hou hulle natuurlik ook lekker besig tydens motorritte en verveelde naweekoomblikke.

Luister hier na Frommel deur Anel Horne of lees dit self hieronder.

Frommel

Deur Anel Horne

Eendag was daar ‘n baie spesiale mannetjie. Sy naam was Frommel.

Frommel was baie verwaarloos en deurmekaar, maar hy het ‘n baie spesiale talent gehad:  Hy kon hom heeltemal opfrommel soos ‘n stukkie papier en as hy hom dan weer ontfrommel, kon hy wees net wat hy wou.

Maar Frommel was hartseer, want hy het geen maatjies gehad nie.

Eendag kom Krimpvarkie verbygedraf.  Frommel sien hom en frommel hom blitsvinnig op om soos ‘n krimpvarkie te lyk.

“Hallo, Krimpvarkie, wil jy my maatjie wees?” vra Frommel.

“Nee! Jy is nie ‘n regte Krimpvarkie nie.  Regte Krimpvarkies is nie so gekreukel nie,” sê Krimpvarkie. “Ek is in elk geval op pad na Kameelperd  se partytjie toe,” sê hy en draf vinnig weg.

Arme Frommel se hartjie was so seer. Hy’t  hom weer in ‘n klein bondeltjie opgefrommel.

Nie lank daarna nie. kom Akkedis verby.

Gou-gou ontfrommel Frommel hom om soos Akkedis te lyk.

“Hallo, Akkedis wil jy my maatjie wees?” vra Frommel.

“Nee, man, ek wil nie met so ‘n ou plooidiertjie maatjies wees nie!  Wat is jy in elk geval? Ek is op pad na Kameelperd partytjie toe, los my anders gaan ek laat wees,” sê Akkedis en hardloop vinnig aan.

“Ek is ‘n Frommel,” sê Frommel sag. Hy begin huil en hy frommel hom weer in ‘n klein bondeltjie op.

Terwyl Frommel nog so lê en huil, kom Uil daar naby op ‘n tak sit.

“Wat vir ‘n kreukelding is jy?” vra Uil. “En waaroor huil jy so?”

Frommel skrik toe hy vir Uil in die boom sien en ontfrommel hom vinnig om soos Uil te lyk.

“Ek is ‘n Frommel en ek wil so graag ‘n maatjie hê, maar niemand wil my maatjie wees nie,” huil hy.  Hy kyk hoopvol op na Uil. “Wil jy nie dalk my maatjie wees nie?” vra hy.

“Nee, jammer, maar jy lyk darem te snaaks.  Al die ander maatjies by Kameelperd se partytjie sal vir my lag as ek met jou daar aankom,”  sê Uil.

“Hoekom probeer jy soos ek lyk?  Jy lyk soos ‘n gekreukelde uil!”

Frommel frommel hom weer op om soos ‘n gewone frommel te lyk.

“Ek wil soos jy lyk sodat jy my maatjie kan wees.  Niemand lyk soos ek nie.  Ek is lelik en gefrommel en niemand wil my maatjie wees nie.”

“Dis nie waar nie, jy is die mooiste frommeltjie wat ek nog gesien het.  As jy nie gekreukel was nie, sou jy mos nie ‘n frommel gewees het nie!” sê Uil. “Ek sal jou maatjie wees, maar dan moet jy ‘n frommel wees.”

“Regtig?” vra Frommel opewonde.

“Kom saam na Kameelperd se partytjie toe, dan wys ek jou iets,” sê Uil.

Toe die twee nuwe maatjies op die bult staan en af kyk oor Kameelperd  en al sy maatjies wat so lekker speel en baljaar by die partytjie, sê Uil:

“Sien jy nou, nie een van daardie maatjies is dieselfde nie, maar kyk hoe lekker speel hulle, ” sê Uil.

“Kyk hoe pluk Kameelperd die boonste sagte bessies van die boom af en gee dit vir Akkedis aan. As hulle al twee akkedisse was, sou hulle nie die lekker bessies kon bykom nie.

“En kyk hoe haal Krimpvarkie daardie doring uit Olifant se voet.  Olifant sou dit nooit self kon doen nie.”

Toe verstaan Frommel skielik.

Toe hulle by die partytjie aankom, was al die maats baie opgewonde om ‘n regte, egte frommel te ontmoet. Van daardie dag af het Frommel  baie maatjies gehad en het hy nooit weer probeer om iets te wees wat hy nie is nie.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.