Die Langoor-Husse van Tafelberg

Deur G. Olwagen

Eendag lank, lank gelede -- so lank gelede dat ek nie eens weet hoe lank nie -- het drie langoor-Husse begin om die groot wolk te maak wat in die somermaande so gereeld oor Tafelberg hang.

Hulle doen dit vandag nog. As jy na Kaapstad ry, ons mooi Moederstad aan die see in die suidweste van ons land, sien jy heel eerste die groot, plat berg wat oor die stad troon. Dit word Tafelberg genoem juis omdat dit aan die bokant so plat is.  En bo-op die berg lê daar baiemaal – as die wind sterk waai – ’n yslike wolk wat soos ’n spierwit wattekombers daaroor uitgesprei is.

Glo dit nou maar kammalielies, maar daardie wolk word met ’n soort handpomp opgeklits. Drie langoor-Husse, sulke klein kaboutermensies, woon bo-op die berg. Hulle werk binne-in hul huisie met die pomp en blaas daarmee aanhoudend die wasem van die wolk by die huisie se skoorsteen uit. Hulle doen dit deur ’n slinger in die rondte te draai.

Om die beurt draai Woep en Wap en Wilmatjie Hus die slinger. Maar terwyl die wolk eers swaar en lui-lui bokant die huisie uitkring, is daar iemand anders wat sorg dat dit gou-gou netjies bo-oor ou Tafelberg gewaai word, presies soos ’n mens ’n tafelkleed oor ’n tafel uitgooi. Daardie iemand se naam is die Kaapse Dokter.

Die Kaapse Dokter is ’n sterk wind wat uit die suidooste waai. Hy is ’n groot vriend van die drie langoor-Husse van Tafelberg -- anders as die ander wind, die nare Noodwester, wat in die wintermaande sy yspaleis in die Suidpool verlaat om die wolk met alle geweld van die plat berg aan die Kaap te kom afwaai.

Maar in die somertyd kan Woep en Wap en Wilmatjie Hus en die Kaapse Dokter met hul werk voortgaan, meestal sonder dat hulle gepla word. Die wolk op die berg is immers baie belangrik vir die groot klomp plante en diere wat daar woon. Die dou in die wolk maak die plante nat wat dan alte lekker kan groei om weer kos vir die baie diere te verskaf.

En tog, weet jy, daar was een somer, nee twee, toe Tafelberg ’n lang, lang tyd droog was. Kurkdroog. Die Husse kon geen wolk maak nie, want hul wolkpomp het skielik tot stilstand geknars. Alles het nog mooi gewerk, soos altyd, maar toe skreeu die pomp net “kwê” en daar staan alles botstil. Woep en Wap en Wilmatjie Hus loer hier, daar en oral in die pompmasjien se ratte, maar hulle kan glad nie sien waar die fout nou eintlik is nie.

Dit was juis in dié tyd dat Magiel die Albatros daar by hulle gekuier het. Woep en Wap en Wilmatjie het reeds hul hande vol gehad om hul kuiergas van Gough-eiland te trakteer, toe moet hulle nog sukkel om die pomp aan die gang te kry ook.

Magiel die Albatros kuier mos gereeld in Desembermaand by die Husse. Hy het die rus nodig, want hy werk baie hard op Gough-eiland.

Hy is die eiland se faktotum, soos hy homself noem. Dit beteken hy is iemand wat allerhande werkies kan doen en daarom vra omtrent al die diere op Gough hom gereeld om iets vir hulle aanmekaar te flans. Soos om skerms te bou uit die uitspoelde stukke van skeepswrakke of miskien selfs om hul kinders ’n rukkie vir hulle op te pas.

Een snaaksigheid van hierdie ou stormvoël is dat hy skoene dra. Hy het eendag ook hierdie skoene op ’n verlate strand opgetel en van toe af het jy hom omtrent nooit sonder sy skoene gesien nie. Die skoene gaan selfs saam met hom bed toe.

Nou ja, toe kom kuier Magiel daardie Desember weer vir die Husse op Tafelberg. En hy en Wilmatjie en Wap loop die dag sommer so tussen die bosse op Tafelberg rond, terwyl dit Woep se beurt is om die wolkpomp se slinger te draai. En skielik kom die Kaapse Dokter ook by hulle verbygedwarrel, maar hulle kom agter hy skarrel in die verkeerde rigting. En soos hy hardloop, verdwyn die wolk op die berg saam met hom.

Die volgende oomblik staan die nare Noordwester voor hulle. Hy blaas ook op Wilmatjie en Wap en op Magiel asof hy hulle wil omwaai.  “Fratsweer in die middel van Desember,” sug Wap nog, maar Magiel weet nie wat hy bedoel nie en hy gee ook nie om nie. Hy is skielik smoorkwaad vir die Noordwester. Wat se windlawaai is dit nou hierdie wat dink hy kan kom blaas en breek soos hy wil!

Magiel pluk sy een skoen uit en gooi daarmee na die Noordwester asof hy hom van die aarde af wil wegvee, maar die windmakerige ou man maak net so ’n systappie en blaas Magiel se skoen in ’n oogwink skoonveld weg.

Daar staan Magiel toe verslae met net een skoen aan sy pote. En toe hulle weer by die Husse se huisie kom, hoor hulle boonop die wolkpomp werk nie meer nie. Die Noordwester het sweerlik ook die pomp stukkend gewaai, gesels hulle onder mekaar.

“Magiel, ou vriend,” smeek Woep Hus, “jy is mos ’n faktotum wat alles kan regmaak. Kyk bietjie vir ons wat is fout met die wolkpomp.”

Maar Magiel is net hartseer. Hy wil hom doodtreur oor sy skoen wat weg is. Die volgende oggend sê hy skaars tot siens aan sy Hus-vriende en vlieg terug na Gough-eiland.

Eers met sy volgende Desembervakansie kon Magiel hulle help. Hy kom ingevlieg van sy eiland, steeds met net een skoen aan sy pote, en hy maak so ’n wye draai bokant die Husse se huisie voordat hy sy vlerke draai om te kan land.

En daar sien hy dit. Die skoen in die bek van die skoorsteen. Dit het die skoorsteen verstop en die wolkpomp ’n hele jaar lank laat stilstaan.

Twee vlieë met een klap – só lui die spreekwoord mos – Magiel het sy verlore skoen teruggekry en Tafelberg het sy verlore wolk teruggekry!

Lees ook: