George Clooney en Stacy Keibler het glo maande laas liefde gemaak.

Die Hollywood-hartebreker en voormalige stoeier het ná twee jaar saam uitgemaak – blykbaar sommer oor die foon. Nou word beweer die vonk tussen hulle is eintlik lankal geblus.

’n Bron het aan die tydskrif Us Weekly gesê: “Hulle het maande laas seks gehad. Hy was in Europa en sy in Los Angeles; hulle het mekaar lanklaas gesien. Party vroue sal bloot gelukkig wees om net met George uit te gaan, maar nie sy nie.”

Nou word gegis Stacy (33) was gretig om met George te trou en met ’n gesin te begin, maar George (52) was nie reg daarvoor nie. Die twee het glo veral die laaste drie maande uitmekaar gedryf; George werk in Europa aan ’n fliek en Stacy was in Los Angeles vir haar nuwe program, Supermarket Superstar.

Iemand in die binnekring het vertel: “Sy weet hy wil nie trou nie, maar daar is altyd daardie droom dat hy wel van plan sal verander. Ongelukkig het die verhouding maar net sy natuurlike verloop geneem.”

Dis nie die eerste mooi vrou wie se hart George breek nie; hy het al onder andere met Elisabetta Canalis, Kelly Preston en Lisa Snowdon uitgegaan. Nadat hy en Elisabetta (34) in Junie 2011 uitgemaak het, het sy gesê. “Hy was baie spesiaal en belangrik vir my, nes ’n pa sou wees. Dit was meer soos ’n pa-dogter-verhouding, het ek nou besef.”