’n Nederlandse ontwikkelaar beweer hy het WhatsApp se swak plek ontbloot deur “eenvoudige” sagteware te skep wat jou bewegings kan naspoor.

Maikel Zweerink het sagteware ontwikkel wat gebruikers in staat stel om die selfoonboodskapdiens se privaatheidsverstellings te omseil.

Volgens Mail Online lê die “ontwerpfout” in die opsionele statuskenmerk wat vir ander gebruikers wys wanneer jy laas aanlyn gesien is.

“Die privaatheidsverstellings in Whatsapp gee jou op die oog af volle beheer oor jou status, terwyl dit eintlik net ’n baie beperkte omvang raak,” skryf Maikel op sy blog.

“Ja, die opsies ‘laas gesien’, ‘profielfoto’ en ‘status’ werk, maar waarskynlik nie so goed soos die gebruiker dit bedoel nie.”

Maikel sê hy het die sagterware WhatsSpy Public ontwerp om die aandag op die fout te vestig. Die program, wat net op “jail-broken” (wanneer beperkings verwyder is) iPhone- en Android-toestelle werk, stel ’n tydlyn saam van ’n WhatsApp-gebruiker se aanlyn status, hou tred van enige gebruik en status, en wys selfs hul profielfoto.

“Jy dink dalk nadat jy al die opsies na ‘niemand’ verstel het, is jy veilig wat privaatheid betref, maar nogtans kan ek jou bewegings op WhatsApp naspoor,” sê hy.

Bronne: The Mirror, Mail Online, International Business Times