Daar staan jy weer langs die braaivleisvuur met ’n mond vol tande. Almal gesels oor die opspraakwekkende Oscar Pistorius-moordsaak en die regsimplikasies van die getuienis wat tot dusver in hof GD van die hooggeregshof in Pretoria gelewer is, en jou regskennis skiet erg te kort.

Jou nefie se seun, wat ’n jaar lank regte geswot het voor hy opgeskop het om op die bote te gaan werk, is besig om almal ore aan te sit met sy “regskennis”, en jy wil so graag ook ’n bydrae tot die gesprek lewer.

Of dalk sit jy elke dag vasgenael voor die kassie en volg die saak slaafs na, maar jy kan nie kop of stert uitmaak van dit wat jy sien of lees nie.

Gelukkig is daar kenners wat poog om leke soos ons in te lig oor die fyner regsimplikasies van die saak wat almal aan die praat het. Hier is drie kenners wie se blogs jy kan volg om meer te wete te kom:

criminallawza.net

Prof. James Grant spesialiseer in kriminele reg en doseer aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy skryf gereeld blog-inskrywings om leke in te lig oor die regsaspekte van Oscar Pistorius se voortslepende moordverhoor. Volg hom op Twitter by @CriminalLawZA

constitutionallyspeaking.co.za

Die grondwetkenner prof. Pierre de Vos is ’n bekende gesig en stem in mediakringe, en word dikwels aangehaal as die Claude Leon-stigting se leerstoel in grondwetlike regering by die Universiteit van Kaapstad. Benewens insigte oor die Oscar-saak skryf hy merendeels oor maatskaplike en politieke aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing – meestal vanuit ’n grondwetlike perspektief. Op Twitter kan jy hom by @pierredevos volg.

blogs.webberwentzel.com

Dario Milo is ’n vennoot in geskilbeslegting by die praktyk Webber Wentzel. Hier lei hy ’n span wat onder meer op media-, kommunikasie- en inligtingswette fokus. Hy doseer ook aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar hy ’n besoekende professor is, en het die boek Defamation and Freedom of Speech geskryf. Jy kan hom op Twitter by @Dariomilo kry.

Almari Wessels