“As jy hoop om ’n vroeë vlug te haal, kan jy in die moeilikheid wees. Ek twyfel of enigiemand dit nou sal haal,” het lt. Kobeli Mokheseng, woordvoerder vir EMPD, Vrydagoggend aan News24 gesê. In die vroeë oggendure het metertaxi’s die R24-snelweg in ’n oostelike rigting tussen die Edenvale- en Barbaraweg-afrit versper. ’n Rukkie voor 07:00 het Kobeli gesê sowat 60 metertaxi’s is ook die linkerbaan van die Olifantsfontein-afrit in ’n noordelike rigting in Tembisa sien blokkeer.
Motoriste is aangeraai om minstens ’n uur by hul rytyd te voeg. Van die ander paaie wat geraak word, is die R21 in ’n suidelike rigting, oorkant die OR Tambo-lughawe.
“EMPD werk daaraan om die pad te open vir die vrye vloei van verkeer. In hierdie stadium staan die verkeer stil,” het hy gesê. Kobeli het bygevoeg die Gautengse polisie werk daaraan om die saak met die taxibestuuders op te los.
“Dis nie duidelik wat hul konflik is nie. Soos jy weet, het die Gautengse polisie ’n eenheid wat die taxikonflik-eenheid genoem word. Die polisie en ander eenhede werk aan ’n oplossing.”

Bron: News24