Niks kon die twee niksvermoedende voetgangers voorberei op wat hulle Dinsdag in ’n swart sak op die hoek van Vaal- en Coetzee-laan in Roodepoort-Wes sou vind nie.

Die lyk van ’n baba, in die vroeë stadium van ontbinding, is luidens Roodepoort Record in ’n swart plastieksak gevind. Na wat berig word, is die geslag en ouderdom van die baba tans nog onbekend.

Volgens ooggetuies is die babalykie Dinsdag omstreeks 14:00 gevind. Hulle het volgens die Record ook aangedui dat mense in ’n wit Nissan Hardbody-bakkie en ’n grys Golf GTI die babalykie weggegooi het. Een van die betrokkenes is na bewering ’n wit vrou met blou oë.

Die polisie was Dinsdagmiddag op die toneel.

Sodra meer besonderhede bekend word, sal die artikel bygewerk word.

Bron: roodepoortrecord.co.za