Jy bewys jou baba ’n guns as jy hom al in sy eerste lewensjaar vis voer, want dit help hom baklei teen allergieë. Maar maak asseblief verantwoordelike keuses van die Sassi groenlys af. Hierdie vis kan die huidige druk van die visbedryf hanteer of word op ’n manier gevang wat nie die omgewing skade aandoen nie.

Nuwe navorsing wat in The American Journal of Clinical Nutrition gepubliseer is, wys as babas in hul eerste lewensjaar vis eet, verminder dit tot die ouderdom van 12 hul kans op allergieë.

Sweedse navorsers het 3 285 babas se dieet bestudeer op die ouderdom van een, twee, vier, agt en 12. Hulle het bevind babas wat gereeld vis eet (twee tot drie keer per maand) se kans op ekseem is 22 persent kleiner en hul kans op hooikoors is 26 persent kleiner as babas wat nie vis eet nie.

Besoek Sassi se webwerf by www.wwfsassi.co.za vir ’n volledige lys van toelaatbare visspesies.

Extra sources: ajcn.nutrition.org, dailymail.co.uk, onlinelibrary.wiley.com, wwfsassi.co.za