Die departement van landbou, bosbou en visserye het in ’n verklaring ’n verbod op die handel van henne geplaas nadat ’n hoogs patogeniese voëlgriepvirus genaamd H5N8 Donderdag op ’n hoenderplaas in Mpumalanga bevestig is.

Die plaas is onder kwarantyn geplaas en die besmette voëls is reeds van kant gemaak.

Intussen het Reuters bekend gemaak dat die verbod landwyd geld.

Volgens Bomikazi Molapo, woordvoerder van die departement, kan dié virus baie vinnig versprei en kan baie verskillende voëls die siekte opdoen. Dit is ook hoogs aansteeklik.

“Die virus kom natuurlik in baie voëls voor en kan versprei deur kontak met besmette voëls en deur die inname van besmette kos of water,” lui die verklaring.

Volgens Bomikazi ondersoek die departement alle bewegings vanaf en na die plaas om vas te stel waar die siekte vandaan gekom het.

Daar word ook gekyk na ander gebiede in Mpumalanga en die Vrystaat wat deur die siekte beïnvloed kan word.

Staatsveeartse doen inspeksie by buurplase wat tussen 3 km en 27 km rondom die geaffekteerde plaas is om vas te stel wat die toestand van die voëls op daardie plase is.

Slegs hoenderprodukte waarvoor permitte by die staatsveeartse verkry is, mag van die plase af vervoer word, sê Bomikazi.

Geen gevalle van mense wat die H5N8-virus opgedoen het, is nog aangemeld nie.

Maar mense wat met siek of dooie hoenders werk moet beskermende klerdrag dra en hul hande met ontsmettingsmiddels was.

“Daar is nog geen effektiewe behandeling vir die siekte nie en besmette voëls moet op ’n menslike manier van kant gemaak word om te keer dat die siekte versprei.”

Netwerk24 het vroeër die maand berig dat Suid-Afrika het ’n verbod geplaas hetop die invoer van hoenders, lewend of dood, asook eiers van Zimbabwe. Dit kom nadat die voëlgriepvirus H5N8 die naweek op een van Zimbabwe  se grootste pluimveeplase, Irvine, waargeneem is.

Agtergrond

Die uitbraak van H5N8 in Ierland in 1983 is in alle waarskynlikheid een van die bekendste en ingrypendste gevalle waar duisende pluimvee gesterf het.

In totaal moes 8 000 kalkoene, 28 020 hoenders en 270 000 eende van kant gemaak word.

Waarvoor staan die letters? Die “H” en die “N” verteenwoordig die proteïen wat op die buitenste lagie van die virus gevind word. Verskillende virusse bevat verskillende proteïen.

Simptome wat op voëlgriep by hoenders kan dui

  • Gebrekkige koördinasie;
  • Pote en kamme kan pers verkleur;
  • Eiers kan misvorm wees of ’n sagte dop hê;
  • Skielike dood sonder enige waarskuwingstekens;
  • Gebrek aan energie;
  • Kop, ooglede, kamme en hakke kan swelling toon;
  • Verlaagde eierproduksie;
  • Hoes of nies.

Tekens van voëlgriep by mense

  • Hoewel die kans skraal is dat die H5N8-virus mense kan siek maak, is daar wel al gevalle aangemeld waar mense met die H5N6-virus besmet is.
  • Koors, hoes, seer keel, ooginfeksies en spierpyne is maar net ’n paar om op te noem.
  • Longontsteking, akute asemhalingsprobleme en ander lewensbedreigende simptome kan opduik.
  • Enigiemand wat enige van hierdie simptome toon, of wat dalk aan die virus blootgestel is, moet mediese hulp ontvang. Daar moet ook duidelik gemaak word dat die persoon aan die virus blootgestel kon wees.

Bronne: gemplers.com, who.int, morgridge.org, reuters.com