Hooters, wat bekend is vir hul kelnerinne in helderoranje sjoebroekies, stywe T-hemde en groot glase bier, het ’n kennisgewing in hul vrouetoilette opgeplak met ’n kode wat vroue kan gebruik wanneer hulle bedreig voel.

’n Facebook-gebruiker, Renaldo Gouws, van Port Elizabeth het ’n foto van die kennisgewing op die sosialemediaplatform gedeel.

Vroue wat onrustig voel oor hul veiligheid terwyl hulle in die restaurant kuier, kan by die kroeg ’n “Angel shot” bestel. Dié bestelling is dan eintlik ’n kodewoord om op ’n geheime manier vir die restaurantpersoneel te sê hulle voel ongemaklik by die mens saam met wie hulle op ’n afspraak is.

’n Angel Shot op sy eie beteken ’n personeellid moet saam met jou na jou motor stap.

’n Angel Shot met ys sal vir die personeellid ’n aanduiding gee dat hulle vir jou ’n huurmotor moet ontbied. En ’n Angel Shot met lemmetjie beteken die personeel moet die polisie ontbied.

Sommige oorsese restaurante gebruik al geruime tyd dié soort kodewoorde om vroue uit ongemaklike of onveilige afsprake te help.

’n Britse kroeg genaamd The Brickyard moedig vroue aan om by die kroeg te vra na “Rachelle” of “Jennifer” as hulle onveilig voel, berig Business Insider.

Dit lyk asof dié idee in Florida begin het by ’n kuierplek genaamd Iberian Rooster. Die Tampa Bay Times het in Desember oor die kodewoorde in kuierplekke berig.

“Iemand het vir ons ’n twiet gestuur met ’n voorbeeld van so ’n veldtog by ’n ander restaurant, ek dink in Amerika. Ons het toe gedink dit is ’n goeie idee en daaroor begin praat,” vertel Roger Masson, bemarkingsbestuurder van Hooters SA.

Volgens Roger het al die Hooters-restaurante Woensdag die plakkate in hul vrouetoilette opgeplak. Die nuus oor die veldtog het daarna vinnig in die sosiale media versprei.

“Daar is baie gemengde reaksie. Die meeste mense hou van die idee, maar ander wonder of dit steeds effektief gaan wees nou dat mense weet van die Angel-sopies.”

Roger sê egter dit maak nie saak dat mense nou daarvan weet nie. “Dit is mos nie ’n tasbare produk nie; so ons hoef nie skielik van voorraad ontslae te raak nie. Dit is mos ’n noodkreet. Dit beteken ons kan die bewoording verander.

Ons kan ’n ander naam of “produk” uitdink. As ons wil, kan ons dit elke week verander en dit in die toilette aan vroue oordra.”

Volgens Roger fokus hulle tans spesifiek op vroue se veiligheid. “Juis ook omdat dit vir ons baie belangrik is omdat so baie vroue vir ons werk. En mense besef dit nie aldag nie, maar ons het ook baie vroueklante wat ons besoek.”

Hy sê intussen hulle kan dalk selfs ’n kodewoord vir mans bekendstel. “Dit is beslis iets wat ons sal ondersoek.”