Vodacom se veldtog om meer datagebruikers te lok, is verskerp met die bekendstelling van die Smart 6-handelsmerk-slimfoon van R799 wat met Android 4.4 toegerus is, berig Fin24.

Die toestel is die jongste in ’n reeks van slimfone met Vodacom se handelsmerk wat op die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel word.

Van die ander spesifikasies van die toestel is ’n gewig van 112 gram, piekselresolusie van 400 x 800, ’n een Gigahertz dubbelkernverwerker, 512 MB RAM, ’n 1 400 milliampere-uurbattery wat sewe uur praattyd het, en 4GB ingeboude geheue.

Vodacom sê ook die kamera bied 3MP-resolusie.

Voorafbetaalde Vodacom-klante kan die foon vir R799 koop, terwyl die toestel ook deur die maatskappy se uChoose flexi 110-kontrak te kry sal wees wat R99 per maand sal kos. Vodacom beloof hul voorafbetaalde klante ook 100MB gratis data per maand vir die eerste ses maande.

Bron: Fin24