Morné Lötter saam met sy vrou, Yvette, en hul twee kinders Ulrich en Irma. Die foto is in Desember geneem.

Die Verenigde Nasies (VN) het twee vlae oorhandig aan die naasbestaandes van die twee Suid-Afrikaners wat verlede maand tydens ’n aanval in Somalië dood is.

Die huldeblyk volg nadat dit aan die lig gekom het Morné Lötter (42) van Oudtshoorn en Alan Simpson (53) van Port Elizabeth, albei werknemers van Denel Mechem wat in Mogadisjoe gebaseer was, het hul lywe gebruik om ’n kollega tydens die aanval te beskerm.

“Hulle het my pa, Morné en nog ’n man se liggame bo-op ’n vrou gekry,” het Alan se jongste dogter, Tanya, Dinsdag uit Port Elizabeth vertel. “Hulle wou haar beskerm.”

Rita Muchucha, wat ook in die voorval oorlede is, was van Kenia en het vir die VN se ontwikkelingsprogram gewerk. Sy was saam met Morné en Alan in Mogadisjoe gebaseer.

Die drie is dood toe rebelle op 19 Junie ’n bom wat in ’n bakkie geplant was voor die ingang van die VN se basis aan die buitewyke van Mogadisjoe laat ontplof het. Die slag het die kompleks se hekke oopgeruk; aanvallers het ingestorm en glo blindelings begin skiet.

Tanya het gesê dit is goed om te weet wat gebeur het. “Dit beteken baie vir ons.”

Ashley Williams, die hoof van Denel Mechem, het Morné en Alan se begrafnisse bygewoon. Hy het verlede Donderdag tydens Alan se begrafnis ’n VN-vlag aan Alan se tweelingbroer, Llewellyn Simpson, oorhandig. Llewellyn het egter besluit dit hoort by sy drie dogters. “Dit is op die oomblik nog in ’n vertoonkas by my pa se huis,” het Tanya vertel.

Justin Brady, ’n verteenwoordiger van die VN se humanitêre afdeling, het ook Morné se begrafnis op 26 Junie bygewoon. Hy het die VN-vlag wat oor sy kis gedrapeer was, aan sy vrou, Yvette, oorhandig.

Yvette het gesê hoewel hulle hom baie mis, is hulle trots op die impak wat haar man gemaak het. “ ’n Mense sukkel maar met tye, maar ek moet vir my kinders aangaan.”

Sy glo nie Morné sou kon oorleef nie. “Ek dink nie hulle het ’n kans gehad om lewend uit die kamp te kom nie.”

Sy koester ook nie ’n wrok nie. “Ons lewe nog altyd volgens die beginsel dat wanneer jou streep getrek is, is hy getrek. Morné se streep was getrek.”

Yvette het gesê dit is die eerste keer dat VN-vlae aan mense oorhandig word wat nie ’n amptelike VN-lede is nie.

Morné laat sy vrou, Yvette, en hul twee kinders, Ulrich (15) en Irma (12), agter. Alan laat sy vervreemde vrou, Annatjie, en sy drie dogters, Annalie (26), Yolandie (24) en Tanya (22) agter. Yolandie verwag tans Alan se eerste kleinkind. Rita word oorleef deur haar man, Roy, en hul vyfjarige dogter, Sanaa.

- Marelize Potgieter