‘n Nuwe onthullling oor die Boeing 777 van die Maleisiese lugdiens wat afgeskiet is in die Oekraïne in ’n gebied wat onder rebellebeheer is het aan die lig gekom.

Dit dui daarop van die passasiers het dalk geweet hul vlug word geteiken.
'Iemand is gekry met ’n suurstofmasker op.'

“Iemand is gekry met ’n suurstofmasker op; hulle het tyd gehad om dit op te sit,” het die minister van buitelandse sake, Frans Timmermans, Woensdag op ’n geselsprogram gesê.

Nederlandse aanklaers het Donderdag bevestig hulle stel ondersoek in nadat daar ontdek is ’n suurstofmasker is om iemand se nek gekry.

“Dit is onbekend hoe en wanneer die masker om die slagoffer se nek geplaas is,” het die aanklaers gesê.

“Die Nederlandse Forensiese Instituut het die masker vir vingerafdrukke, speeksel en DNS ondersoek, maar dit het niks opgelewer nie,” het hulle in ’n ope brief aan slagoffers se naasbestaandes gesê wat aanlyn gepubliseer is.

Geeneen van die ander slagoffers van die voorval waarin al 298 mense aan boord dood is – van wie 193 Nederlands was – het ’n suurstofmasker opgehad nie, het hulle gesê.

Die Boeing 777 van die Maleisiese lugdiens is op 17 Julie afgeskiet oor die ooste van die Oekraïne in ’n gebied wat onder rebellebeheer is.

’n Voorlopige verslag deur ’n span lugongeluk-ondersoekers bevestig bewerings dat ’n teenvliegtuigmissiel die vliegtuig neergeskiet het.

Oekraïense en Westerse owerhede het separatiste met Russiese ondersteuning die skuld vir die voorval gegee. Hulle beweer hulle het dit met ’n BUK-grond-tot-lug-missiel afgeskiet. Die Russiese owerheid ontken dit, en wys die vinger terug na die Oekraïense owerheid.

Forensiese kenners het hul soektog na lyke uitgestel weens konflik tussen die Oekraïne en pro-Russiese rebelle naby die ongelukstoneel by Donetsk. Hulle sê hulle hoop om binnekort terug te keer.

Timmermans, die nuwe adjunkvoorsitter van die Europese Kommissie, het Donderdag gesê hy is spyt dat hy die aankondiging gedoen het voor die slagoffers se naasbestaandes in kennis gestel is.

“Ek wou glad nie hul pyn vermeerder nie,” het hy gesê.

“Ek moes dit nie gesê het nie,” het hy in ’n verklaring gesê nadat naasbestaandes met afgryse op sy aanmerkings gereageer het.

Aanklaers, wat hul brief in reaksie op Timmermans se uitlatings gestuur het, het gesê hulle ondersoek steeds die omstandighede rakende die suurstofmasker.

Tans “kan daar geen gevolgtrekkings van die ontdekking gedoen word nie”, het hulle gesê.

Intussen het die Nederlandse kabinet gesê die kans om na die stortingstoneel terug te keer, word ál kleiner.

“Dit blyk onmoontlik te wees om binnekort na die toneel terug te keer, gegewe die voortdurende onstabiele en onveilige situasie,” het hulle in ’n ope brief gesê.

Pogings om slagoffers se persoonlike besittings te verkry en aan familielede te oorhandig, gaan ook voort, sê die brief, wat onderteken is deur die ministers van justisie, verdediging en buitelandse sake.

Bladsye in Russies op die sosiale netwerke Facebook en VKontakte vra mense om ontdekkings van besittings of liggaamsdele van die ongeluk aan te meld, luidens die brief.

Daarin is ook gevra dat die stortingstoneel beveilig word om die uitkenning van lyke aan te help.

“Verder is die mikpunt ook om wrakstukke uit die gebied te kry. Om dit te doen is toegang noodsaaklik en die samewerking van die separatiste in die gebied is nodig.”