1. DIE VLIEGTUIG

’n Boeing 777-200ER van Malaysia Airlines, wat volgens die lugredery 283 passasiers (insluitend drie babas) en 15 bemanningslede op vlug MH17 van Amsterdam na Kuala Lumpur vervoer het. Nadat dit Amsterdam om 12:15 plaaslike tyd verlaat het, moes dit die Kuala Lumpur internasionale lughawe die volgende dag om 06:10 plaaslike tyd bereik.

2. DIE ROETE

Al het rebelle Oekraïense militêre vliegtuie oor oos-Oekraïne afgeskiet (en het die gebied hewige gevegte beleef), was die roete wat die Maleisiese vliegtuig geneem het nie onder enige vlugbeperkings nie, het die Internasionale Lugvervoerassosiasie (Iata), bedryfsgroep, gesê. Eurocontrol, ’n Europese lugvaart-veiligheidsorganisasie, het gesê die vliegtuig het teen ’n hoogte van sowat 10 000 m gevlieg, wat gemagtig was, hoewel die Oekraïense owerheid die lugruim teen laer hoogtes gesluit het.

3. DIE NEERSTORTING

Malaysia Airlines het gesê die Oekraïense owerheid het hulle in kennis gestel hulle het kontak met die vliegtuig verloor toe dit 30 km van die Tamak- roetebaken was, sowat 50 km van die grens tussen Oekraïne en Rusland. Die vliegtuig-opsporingsdiens FlightAware.com het gesê MH17 se laaste aangemelde posisie was teen ’n hoogte van sowat 10 000 m net wes van die grens tussen Oekraïne en Rusland. Die Oekraïense owerheid het dit berig en ’n joernalis van die Associated Press (AP) het die ongelukstoneel opgespoor naby ’n dorpie wat onder die beheer is van pro-Rusland-vegters, 40 km van die grens. Die joernalis het gesê dit blyk die vliegtuig het voor impak uitmekaargeskeur. Brandende puinstukke en passasiers se besittings is oor ’n wye gebeid gestrooi.

4. DIE OORSAAK

Een van die Oekraïense minister van binnelandse sake se raadgewers het gesê die vliegtuig is met ’n missiel afgeskiet, maar het geen bewyse gelewer nie. In ’n teeneis het ’n pro-Russiese separatiste-leier gesê hy is seker Oekraïense troepe het die vliegtuig afgeskiet, maar het ook geen verduideliking of bewyse gelewer nie. Oekraïne se president, Petro Porosjenko, het ontken dat sy land se weermag Donderdag op enige lugteikens gevuur het. Onafhanklike verdedigingskenners van die Weste het die AP vertel sowel die Oekraïense as Russiese weermag besit SA-17-missiellanseerders wat ’n hoogte van 20 000 m kan bereik. Hulle sê ook pro-Russiese rebelle kon een of twee oppervlak-tot-lug-missiele in die hande gekry het toe Oekraïense magte terugval.

AP-joernaliste het Donderdag ’n Lanseerder soortgelyk aan die SA-17-missielstelsel, bekend as Buk, naby die oos-Oekraïense dorpie Shnizjne, wat onder rebellebeheer is.

5. DIE PASSASIERS

Minstens 154 mense op die vlug was Nederlandse burgers, het Huib Gorter gesê, Malaysia Airlines se senior adjunkpresident in Europa. Daar was ook 43 Maleisiërs (insluitend al 15 bemanningslede), 27 Australiërs en 12 Indonesiërs. Verder was daar ook ses van die Verenigde Koninkryk, vier van Duitsland, vier Belge, drie van die Filippyne en een Kanadees. Daar is steeds 47 oorledenes wie se nasionaliteit nog nie bevestig is nie, het hy bygevoeg.

6. DIE REAKSIE

Pres. Obama is tydens ’n oproep deur Rusland se pres. Wladimir Poetin van die berigte van die vliegongeluk in kennis gestel is, en het sy raadgewers gevra om hom op hoogte van sake te hou. Boeing het enige bystand gebied wat owerhede dalk sal nodig kry. Eurocontrol het gesê die Oekraïense owerheid het hulle in kennis gestel alle lugruim in oos-Oekraïne is nou gesluit. Eurocontrol gaan enige vlugplanne met hierdie roete tot verdere kennisgewing afwys.

- Sapa