Stephanie King (43) van Bilambil het nog een van haar kinders in haar arms gekoester. Haar seuntjie, Jacob (7), en oudste dogter, Ella Jane (11), se lyk is saam met haar in die sportnutsvoertuig gevind wat Maandag in die vol rivier beland het.

Net Chloe May (9) het die ongeluk oorleef. Sy het betyds uit die motor gekom, na die wal geswem en hulp vir haar ma en sibbes gaan soek. Die dapper meisie moes plek-plek deur water van sowat 8 m diep swem. Chloe May het by die plaashuis van Ben Darcy en sy lewensmaat, Sabrina Colomb, hulp gaan soek. “Sy’t gesê hul motor het pas in die water beland en dat haar ma nog in die motor is,” het Ben gesê. Hy en sy seun het met ’n boot op die rivier na die motor gaan soek. “Om te dink ons was in die boot, drywend bo die motor, is net afgryslik.”

Matt Grinham en sy gesin was in die omgewing toe ’n motor skielik voor hulle remme aanslaan en hulle iemand hoor gil. Hy’t eers gedink dis moontlik ’n kalf in die water. Maar toe hy afkyk en die glymerke van ’n motor in die modder sien, het hy besef dis veel erger. “Die meisietjie het paniekbevange bly gil dat daar ’n motor in die water is, en dat haar ma, sussie en boetie in die motor in die rivier is.” Hy het vertel van die magteloosheid wat hy ervaar het deur nie iets te kon doen nie. “Ons kon net nie die motor bereik nie. Daar was (lug)borrels, ons kon die borrels vind, maar net nie by die motor uitkom nie,” het hy gesê. “Ons het voete eerste probeer gaan om te kyk of ons die motor so kan bereik. Ek het ’n paar keer probeer, maar die borrels . . . het begin wegraak. Dit het net minder en minder geword.”

Die nalatenskap van sikloon Debbie het die soektog verder gekortwiek met sterk strome en rommel wat deur die rivier afgevoer is. Die water was koud en sigbaarheid baie swak. Superintendent Wayne Starling sê hy sal nie verbaas wees as Stephanie vir Chloe May gehelp het om uit die motor te kom nie. Hy glo sy sou nog geleef het as sy nie haar kinders probeer red het nie. Chloe May het verskeie krap- en kneusmerke opgedoen en is in die hospitaal opgeneem waar sy deur haar pa, Matt Kabealo, ondersteun word.
Inspekteur Mick Dempsey van die Tweed Byron-polisie sê die gesin se motor is met behulp van sonar opgespoor. Dit was ongeveer 5 m van die wal gevind. Die wrak van die motor sal vir verdere ondersoek gestuur word om te bepaal of dit ’n meganiese probleem was wat tot die tragedie gelei het. Tumbulgum is een van die gemeenskappe wat besonder swaar onder sikloon Debbie deurgeloop het. Die dorp, met sowat 600 inwoners, is Donderdag reeds op ’n gereedheidsgrondslag geplaas om te ontruim. Die Tweedrivier het sy oewer oorstroom en skade aan verskeie huise en sakeondernemings aangerig. So het die Tweed-rivier se watervlak op 31 Maart gelyk!

Bronne: theaustralian.com, news.com.au, theguardian.com