Die kitsvloed het Saterdag Arizona met volle mag getref.

Die nasionale weerdiens daar het in ’n waarskuwing, wat voor die vloed uitgereik is, hewige reënbuie en donderstorms voorspel.

Die vloed het eerste die Cold Springs canyon in die noordooste van Phoenix getref. Veertien famililede wat naby die Cold Springs swem gaat was is summier deur die vloed meegesleur.

CNN berig dat ses kinders onderskeidelik 2 tot 13 jaar oud onder die dooies is. Die oudste slagoffer was in sy laat 60’s.

Die soektog na die 27-jarige vermiste familielid duur steeds voort.

Disa Alexander, een van die storm se oorlewendes, was besig met ’n staptog toe die storm toeslaan. Sy het ’n man met ’n baba opgemerk wat aan ’n boom vasklou, berig CBS News.

Die man se vrou was ook in die omtes en het aan ’n ander boom geklou.

Disa en haar mede-stappers het vergeefs die gesin probeer red. Reddingswerkers het kort daarna op die toneel verskyn.

“Ons het na die water gekyk en dit was baie bruin,” vertel Disa. “Letterlik 20 sekondes later kon ’n mens sien hoe strome water afkom en die puin en bome intrek. Dit het soos ’n groot modderstorting gelyk.”

Goewerneur Doug Ducey het sy medelye oor die voorval op Facebook uitgespreek. 

“My innige gebede aan die wat hul lewens in die Gila-distrik verloor het, vir hul families en die gemeenskap. Benewens die staat wat volle lug-ondersteuning verskaf, gaan ons ook voort om op alle maniere moontlik te ondersteun.”

Nege lyke is in die puin gevind en reddingswerkers is steeds op soek na die 27-jarige vermiste man.

Bronne: CBS News, Washington Post, The Guardian, CNN