Minstens 112 mense is steeds vermis terwyl owerhede probeer om diegene wat nog gestrand is, te red.


’n Risikobeheer-sentrum in Sri lanka het Sondag aangekondig dat dié vloed die ergste vloed sedert 2003 is.
Ongeveer ’n half miljoen mense moes hul wonings ontruim, berig The New York Times.

Sommige dorpe is onder vyf meter water en die vloot moes bote en gepantserde voertuie uitstuur om na oorlewendes te soek. Hoewel die vloede teen Sondag reeds begin daal het, het amptenare gewaarsku dat nog reën die volgende paar dae verwag kan word.

Banakiyanage Gnanawathie, wat in Matara bly, ’n dorp in Sri Lanka wat erg geaffekteer is, het aan CNN gesê dat sy nog nooit sulke vloede in Matara ervaar het nie. 

“Ek het nog nooit in die leeftyd wat ek hier bly sulke vloede gesien nie. Ons het alles verloor en dra steeds die klere wat ons aangehad het tydens die vloed. Ek is net baie bly dat ons die vloede en selfs die krokodille ontsnap het,” het sy aan CNN gesê.

“Daar is net ’n dak en gebou. Ons het alles verder verloor,” sê Banakiyayanage verder aan CNN.



Sri Lanka doen ’n beroep op die Verenigde Nasies om hulle by te staan en te help gedurende die herstelpoging.


Bronne:CNN, The New York Times, Abcnews.go.com, News.sky.com.