Norman Hanenbaum van Haddam, Connecticut, het Saterdag ongestoord televisie gekyk. Toe hoor hy ’n klipharde slag en sien hoe sy huis se plafon sowat ’n meter weg van hom neerstort.

Hy’t eers gedink dis ’n boom wat op sy huis se dak beland het, totdat hy buitentoe gegaan het om ondersoek in te stel.

Dis toe dat sy buurman vir hom skree: “Norman, daar’s ’n vliegtuig op jou dak!”

’n Baie dankbare Norman sien toe dat wat hy gedog het ’n boom is, eintlik ’n ligte vliegtuig is. Meer nog, dat die helfte van die vliegtuig deur die plafon gedring het tot waar hy gesit en televisie kyk het.

Beide vlerke van die vliegtuig is van die romp weggeskeur. Verskeie omstanders het op Norman se dak geklim om die vlieënier uit die kajuit te red.

Die vlieënier, Benjamin Temple (46) van New York, is tans in ’n kritieke toestand en is met ’n lugambulans na die hospitaal gehaas.

Benjamin het glo oomblike voor sy vliegtuig neergestort het van die nabygeleë Goodspeed-lughawe opgestyg.

goodspeed lughawe

Een van die ooggetuies, Herb Gross, het aan News 8 gesê die vliegtuig het so laag gevlieg dat hy verstom was die vlieënier het nie die boomtoppe getref nie.

Verskeie kragkabels het tydens die ongeluk in die slag gebly en sowat 300 mense wat in die omgewing woon, was vir ’n paar uur sonder elektrisiteit gelaat.

Bronne: wtnh.com, abcnews.com, wfsb.com,