’n Passasiersvliegtuig met minstens 81 mense aan boord, insluitend die lede van ’n Brasiliaanse sokkerspan, het laat Maandagaand neergestort net buite Medellin in Kolombië.

Dit is nog onseker wat die ongeluk veroorsaak het. ABC News berig ses mense het oorleef, maar dit is in die stadium nog onduidelik hoe akkuraat daardie getal is.

Die BBC berig die vliegtuig was onderweg vanaf Bolivië na Medellin toe dit kort voor landing neergestort het. Al die lede van die Chapecoense-sokkerklub van Brasilië was aan boord. Dié span was veronderstel om in die finale rondte van ’n Suid-Amerikaanse sokkerkragmeting deel te neem. Hulle sou Woensdag teen Medellin se Atletico Nacional-span meeding. Hierdie wedstryd is intussen afgelas. Hier is die span vroeër:

Daar word berig die vliegtuig het kort voor middernag plaaslike tyd in die bergagtige gebiede rondom Medellin neergestort. Daar was 72 passasiers en 9 bemanningslede aanboord.

Die stad se burgemeester, Federico Gutierrez, het dit as ’n "tragedie van groot omvang" bestempel, maar bygevoeg oorlewendes kan nog opgespoor word.

Ambulanse en noodpersoneel het hulle na die ongelukstoneel gehaas.

Dis ook nog onduidelik of die vliegtuig ’n noodtoestand afgekondig het voor dit neergestort het.

Bronne: BBC; Daily Mail; CNN