Dié vlug van Pakistan International Airlines (PIA) moes in Manchester in Engeland land omdat nie een van die toilette op die vlugtuig meer kon spoel nie. Gewoonlik het hierdie tipe vliegtuig, ’n Boeing 777, agt of nege toilette. Volgens berigte het ’n passasier glo ’n soliede voorwerp in een van die toilette afgespoel. Dit het ’n kettingreaksie tot gevolg gehad en spoedig was al wat ’n toilet is, verstop. Danyal Gilani, ’n woordvoerder van PIA, het die voorval Saterdag op Twitter bevestig. Hy het ook ’n kort verklaring namens die lugdiens uitgereik.

Daarvolgens moes die vlug vir vyf ure in Manchester stop sodat tegnici die verstopte pypwerk kon skoonmaak.

“Omdat al die toilette aan ’n gemeenskaplike uitlaatpyp gekoppel is, is die res van die toilette ook verstop,” het die verklaring gelees.

"Inaggenome die gemak van ons passasiers, is die vlug na Manchester herlei sodat die toilette gediens kon word voordat die vlug hervat sou word," het die lugdiens verder laat hoor.

"Ons is baie jammer oor enige ongerief wat deur die voorval veroorsaak is."

Bronne: Metro.co.uk; Sun.co.uk