Luidens ’n verklaring deur die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) het SkyWest se vlug 5 622 met 75 passasiers aan boord van die O’Hare Internasionale Lughawe in Chicago vertrek en was onderweg na die Bradley Internasionale Lughawe in Windsor Locks, Connecticut, toe dit Woensdag omstreeks 11:40 (plaaslike tyd) op die Niagara Internasionale Lughawe in New York geland het.

Die United Express-vlug is onderneem deur die streekslugredery SkyWest Airlines.

Die FAA het gesê die bemanning van die Embraer E170 het ’n moontlike drukreëlingprobleem aangemeld, maar daar is bevind dit was nie korrek nie.

’n SkyWest-woordvoerder, Marissa Snow, het aanvanklik berig een passasier aan boord van vlug 5 622, wat onder die naam United Express vlieg, het hul bewussyn verloor en die vlieëniers het skerp gedaal “uit oorversigtigheid”.

Maar in ’n opvolgverklaring het Snow gesê nuwe inligting van mediese personeel het bevestig “altesaam drie passasiers het hul bewussyn tydens die vlug verloor”.

Nog 15 volwassenes en twee kinders is net ná die landing ondersoek, maar nie een het behandeling buite die lughawe nodig gehad nie, het die lughawewoordvoerder C. Douglas Hartmayer gesê.

Bronne: News.com.au, themirror.co.uk, Twitter