Die Australiese owerhede sê die fokus sal “oor die komende weke” verskuif na ’n intensiewer ondersese soektog om te probeer uitpluis wat gebeur het met die Malaysia Airlines-vliegtuig wat op 8 Maart met 239 mense aan boord verdwyn het.

Agt lande is by die ongehoorde soektog betrokke – Australië, Nieu-Seeland, Maleisië, Japan, Suid-Korea, Amerika, Brittanje en China – en meer as 300 vlugte is oor ’n uitgestrekte deel van die afgeleë oseaan onderneem op soek na wrakstukke.

Maar met niks om te wys vir hul moeite nadat hulle meer as 4,5 miljoen km2 sedert 18 Maart gefynkam het nie, is die vliegtuie onttrek.

“Die meeste van die vliegtuie sal teen die einde van vandag weg wees,” het ’n woordvoerder vir die gesamentlike koördinasiesentrum onder leiding van Australië aan AFP gesê. ’n Australiese P-3 Orion sal wel in Perth op ’n gereedheidsgrondslag bly.

Amerika, Japan, Nieu-Seeland en Maleisië het almal bevestig hul vliegtuie keer na hul basis terug. Daar was Woensdag geen onmiddellike aanduiding van China af nie, van waar die meeste van die passasiers aan boord gekom het.

Tot soveel as 14 skepe van Australië, China en Brittanje het ook die seeoppervlak vir wrakstukke of seine van die vlugopnemer help deursoek, maar baie van hulle is ook aan die onttrek.

“Party moet teruggaan hawe toe en weer brandstof inneem en die bemanning ’n ruskans gee, ander sal weer gaan doen wat hulle vir hul onderskeie lande gedoen het voor hulle by die soektog aangesluit het,” het die woordvoerder gesê.

“In wese is die oppervlaksoektog afgeskaal. Ons sal ’n paar vaartuie daar buite hou en ander op bystand, maar die grootskaalse lug- en seesoektog het geëindig.”

Maandag het die Australiese premier, Tony Abbott, bekendgemaak die fokus sal verskuif na ’n uitgebreide onderwatersoektog oor ’n reuse stuk van die seebodem waar die vliegtuig dalk geval het, en erken dit is nou “hoogs onwaarskynlik” dat enige wrakstukke op die oppervlak gevind sal word.

Die Amerikaanse vloot se duikboot Bluefin-21 het al ’n gebied van 314 km2 gefynkam rondom die plek waarvandaan die uitsendings van die vliegtuig se vlugopnemers vermoedelik gekom het voor die batterye afgeloop het.

Maar dit het ook niks opgelewer nie terwyl swak weerstoestande die pogings Woensdag bemoeilik het.

Tony het gesê ’n gebied van tot 56 000 km2 van die seebodem sal in die nuwe soektog gefynkam word en die Bluefin-21 sal in werking bly tesame met ander tegnologie, moontlik ’n gespesialiseerde kantskandering-sonar.