Die Airbus 320, met Michael Johnston (57) as kaptein, was van Phoenix na Boston onderweg voor dit na Syracuse weggelei is.

Voor die vliegtuig by die nuwe bestemming kon land, het die medevlieënier die lughawetoring gekontak.

“American 550. Mediese noodgeval. Kaptein is bewusteloos.”

Volgens party berigte het ’n vlugkelner, wat toevallig voorheen ’n verpleër was, noodhulp op die kaptein probeer toepas, maar dit was reeds te laat.

’n Lykskouing en voorlopige toetse “toon die sterfte was die gevolg van natuurlike oorsake”.

Michael se vrou het aan KUTV gesê hy het in 2006 ’n dubbele hartomleiding ondergaan. Sy het toe geweet hy sou waarskynlik eendag aan ’n hartaanval sterf.

“Nie een van ons sal weet wat in die stuurkajuit gebeur het nie,” het die passasier Frank Cacciola aan WCVB gesê.

“(Die bemanning) het Mike, mekaar en ons kliënte uiters goed versorg,” lui ’n verklaring van die lugdiens.

“Ons kan nie trotser wees op die spanwerk wat die bemanning in ’n uiters moeilike tyd openbaar het nie. Ons lughawespanne in Syracuse en Boston was ook deurslaggewend daartoe om ons kliënte te steun en hul hantering word hoog op prys gestel.”

Bronne: cnn.com, foxnews.com