Vlieënde springkastele wat hoog deur die lug trek, is dalk menigte kinders se droom, maar vir veilgheidsbewuste ouers is dit ’n nagmerrie. En in New York in Amerika het dié nagmerrie Dinsdag ’n realiteit geword toe ’n rukwind ’n springkasteel 15 m hoog laat trek en drie kinders beseer het. Die wind het na bewering die kasteel se penne losgeruk wat dit in die grond anker.

Twee seuns van onderskeidelik vyf en ses jaar en ’n 10-jarige dogtertjie was op die springkasteel toe die fratsongeluk plaasvind.

Volgens omstanders het die dogtertjie naby die kasteel se ingang gespeel en het sy uitgeval kort nadat die kasteel begin opstyg het. Sy het ligte beserings opgedoen.

Die twee seuns is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem nadat een bo-op ’n kar te lande gekom het en die ander op ’n teerblad geval het. Ernstige kopwonde, gebreekte arms en gesigwonde tel onder hul beserings.

’n Omstander het die ongeluk as iets uit ’n rillerfliek beskryf.

Wenke om veiligheid op ’n springkasteel te verseker.

  1. Maak altyd die springkasteel op ’n gelyke, ferm oppervlak vas.
  2. Sorg dat die kasteel se ankerpenne almal werk en stewig in die grond vasgehamer is.
  3. Laat ’n opgeleide persoon of die kasteel se verskaffer die kasteel aanmekaarsit en in die grond anker.
  4. Gaan die penne gereeld na en kap hulle dieper in die grond in as hulle deur die loop van die dag loskom.
  5. As die wind sterker as 25 km/h waai, behoort die kasteel nie gebruik te word nie.
  6. Volwassenes behoort die kasteel se kragblaser dop te hou en kinders daarvan weg te hou.

- Mieke Vlok

Bronne: MSN News, creativeinflatables.co.za