Erno van Dyk (48), wat ook as eiendomsagent werk, het Vrydag aan Huisgenoot.com vertel dat hy op Woensdag 26 Julie nie sy oë kon glo nie.

Hy was besig om ’n nuwe kamp vir sy ganse en eende te span toe hy sien dat sy twee troetelganse, Donald en Daffy, heeltyd in die lug op kyk.

“Daar was nie ’n wolk in die lug nie. Skielik het iets met ’n hengse spoed oorgevlieg gekom in die rigting van Krugersdorp.”

Erno sê hy het na die voorwerp gestaar omdat hy nie kon uitmaak wat dit is nie. 

“Die volgende oomblik het die voorwerp teen ’n hoek van 90 grade van koers verander en in die rigting van Ventersdorp verdwyn. Dit was ongelooflik en het soos ’n verskietende ster in helder daglig gelyk.”

Ná die beweerde VVV verdwyn het, het Erno nog ’n ruk verbaas in die lug bly kyk. 

“Ek het nie eens daaraan gedink om ’n foto te neem nie.”

Ek kan nie sê hoe die voorwerp gelyk het nie. Dit het te vinnig beweeg. Ek het nog nooit iets so vinnig sien beweeg nie.

Hy vertel dat sy bure, wat ook sy Facebook-inskrywing gelees het, hom vanaand kom spreek om hom van ’n soortgelyk ervaring te vertel.

“Ek kan nie sê hoe die voorwerp gelyk het nie. Dit het te vinnig beweeg. Ek het nog nooit iets so vinnig sien beweeg nie. Maar dit was definitief silwer.” 

Mensies, my seun is 6 jaar oud en hy het na my toe gekom en gesê hy het iets in die lug sien vlieg. Dit was nie ’n vliegtuig gewees nie.

Daar het ’n vrou op Erno se inskrywing gereageer en gesê haar jong kind het ook daardie dag iets vreemds in die lug gewaar.

“Mensies, my seun is 6 jaar oud en hy het na my toe gekom en gesê hy het iets in die lug sien vlieg. Dit was nie ’n vliegtuig gewees nie. Toe lag ek vir hom. Nou wonder ’n mens wat was dit?” het Bianca Beukes op Erno se inskrywing gereageer.

Huisgenoot het die organisasie UFO Research of South Africa om kommentaar genader, maar die organisasie het twee dae later nog nie op die versoek gereageer nie.