Die brand in een van die vliegtuig se twee enjins het swart rook by die kajuit laat inborrel. Die passasiers het hulle na die voorkant gehaas, wat tot paniekerigheid gelei het, het iemand aan boord getwiet.

Talle passasiers en bemanningslede het geringe beserings opgedoen en is hospitaal toe gebring nadat almal teen die nood-opblaasglybane uit die Boeing 777 ontsnap het.

“Mayday, Mayday, Speedbird 2276 versoek die brandweer,” word een van die vlieëniers kalm gehoor sê op ’n klankgreep wat aanlyn geplaas is. “Ons ontruim op die aanloopbaan. Ons het ’n brand. Ek herhaal: ons ontruim.”

Die vliegtuig se linker-enjin het tydens opstyging aan die brand geslaan.

Op video’s en foto’s van die toneel is die breë-romp-straler in vlamme en dik swart rook gehul op die internasionale lughawe McCarran. Die vliegtuig het 159 passasiers en 13 bemanningslede aan boord gehad.

“Ons bemanning het die vliegtuig veilig ontruim en die nooddienste by die lughawe het die brand vinnig geblus,” het ’n woordvoerder van BA gesê.

Op ’n foto wat die lughawe agterna geplaas het, staan die vliegtuig met ’n gebrande romp op die aanloopbaan.

Luister hier na een van die vlieëniers se Mayday-boodskap:

Bronne: CNN, BBC, Sky News, Huffington Post