Vlamme het Dinsdagoggend ’n toerbus in Taiwan verswelg en die lewe van 26 mense, waaronder 24 Chinese toeriste, die busbestuurder en toergids, geëis. Die groep was op pad na die Taoyuan-lughawe nadat hulle ’n agt dag lange toer op die eiland onderneem het.

Agt mans, 16 vroue en drie kinders het in die ongeluk omgekom.
Van die berigte tot dusver dui aan dat die bus aan die brand geraak het voor dit die reling langs die hoofroete, wat ook ’n besige snelweg is, getref het. Ander berigte lui weer dat die bus buite beheer getol, die reling getref en daarna aan die brand geslaan het.

Ooggetuies beweer rook het uit die bus geborrel en dat die voertuig heen en weer oor die bane geswenk het voor dit die reling getref het.

Talle motoriste het stilgehou om van die passasiers te probeer red, maar die vlamme het hulle oorweldig en hulle was magteloos om te help.

Dit is tot dusver onbekend wat tot die brand gelei het. Hoekom geen van die passasiers uit die vlammehel kon ontsnap nie, word ook ondersoek. Die brandweerhoof van Taoyan, Lai Chi-Chong, het aangedui dat die passasiers nie genoeg tyd gehad het om te ontsnap nie.

Brandweerlui op die toneel het bevestig dat hulle geen hulpkrete uit die bus gehoor het nie.

Baie van die oorledenes is erg verkool. Talle lyke is op ’n hoop voor die toe nooduitgang gekry.

Bronne: todayonline.com, bbc.com, theguardian.com, reuters.com