Voortstuwende sterk wind vererger die stryd om die vlammehel onder bedwang te bring.

Volgens Algoa FM News was die situasie teen Donderdagmiddag laat soos volg:

Brandbestryders veg onverpoos voort teen brande by Van Stadenskloof, Greenbushes en die Bushbuckridge-gebiede.

Die brand by Rocklands, Victoria-rylaan en Sardiniabaai-weg is nog nie onder beheer nie. Theescome Welcome-laan is wel onder beheer.

Agt gesinne se eiendom in die Rocklands-gebied is deur die brand vernietig.

By Elandsrivier in die Nelson Mandelabaai-metro woed dit ook nog voort.

Dié video is deur die loop van die dag geneem vanaf Lovemore Heights in die Baai.

Inwoners is gewaarsku nog sterk wind word oor die suidelike en oostelike dele van die Oos-Kaap verwag. Dit kan selfs stormsterkte haal. Deinings van 6-9 m hoog word langs die kus verwag.

So kan jy help

Komberse, toiletware, doeke, nie-bederfbare kos, water en troeteldierkos kan by enige van die volgende punte afgelaai word:

1. Cleary Park-winkelsentrum by die Steers-ingang
2. Baywest-winkelsentrum by die inligtingshokkie
3. Greenacres-winkelsentrum
4. Walmer Park-winkelsentrum
5. Algoa FM-ateljees, The Boardwalk, Somerstrand
6. DHL-kantore
7. Vodacom se tak in Walker-rylaan

Bykomende bronne: toplocalnow.com, mype.co.za.