Ons almal weet selfone is wonderlike toestelle om jou uit ’n penarie te help.

Maar min mense kan sê ’n virtuele stem op ’n selfoon het letterlik hul lewe gered.

’n Tienerseun van Tennessee in Amerika kan vandag ’n sug van verligting slaak nadat Siri, die virtuele stem op Apple se iPhone, gehelp het om sy lewe te red.

Sam Ray (18) vertel die stemherkenningsagteware op sy iPhone het hulp ontbied nadat hy onder ’n vragmotor vasgepen is.

Sam het plaaslike nuusbronne vertel die vragmotor het van die domkrag afgeglip en hom onder meer as 2 000 kg se metaal vasgedruk. Vanuit daardie posisie kon verbygangers Sam nie sien of hoor nie.

Hy kon homself ook nie loswikkel om by sy foon – wat in sy broeksak was – uit te kom nie.

“Ek sê toe ‘Bel 911’ en dit was al,” het Sam vertel.

Christina Lee, wat die noodoproep ontvang het, het aanvanklik gedink Sam het haar per ongeluk gebel, tot sy hom om hulp hoor skree het.

Deur sy selfoonsein kon Christina Sam se ligging bepaal en het sy onmiddellik reddingspersoneel na hom gestuur.

Hulle het hom sowat 40 minute nadat die vragmotor op hom geval het, bevry.

Sam het heelwat beserings opgedoen, insluitend ’n gebreekte ribbebeen en ’n gekneusde nier sowel as snye en harsingskudding.

Hy is dankbaar hy lewe. “Ek lei af ek gaan maar ’n iPhone hê vir die res van my lewe,” het hy gesê. “Ek is dit aan hulle verskuldig.”

Bronne: Yahoo News, Daily News