“Julle moet maar onthou hoeveel geld dié man mense skuld,” het ’n omstander by mense gepleit toe die grapmaker en voormalige Maak ’n Las-aanbieder Nico Nel se besittings vanoggend op Ceres opgeveil is.

[caption id="attachment_134460" align="alignnone" width="600"]xx Net meer as 40 items het vandag onder die hamer gekom. Foto's: Mieke Vlok [/caption]

Sowat 30 mense het in ’n sonnige parkeerarea naby Ceres se hoofstraat saamgedrom terwyl Nico se meubels en besittings in ’n halfmaan uitgepak gestaan het.

Net meer as 40 items het onder die hamer gekom. Nico was nie in die omtrek nie en sy familie of vriende klaarblyklik ook nie.

Old Mutual, waar Nico destyds as makelaar gewerk het, is glo steeds besig met hul ondersoek na hom. Dit volg nadat talle mense die afgelope paar weke na vore gekom het met beskuldigings dat Nico hulle geld skuld en hulle vermy.

Die item wat die meeste belangstelling ontlok het, ’n geraamde foto-collage van die 2007 Rugbywêreldbeker, is eerste opgeveil, maar het ’n skamele R200 gehaal.

[caption id="attachment_134462" align="alignnone" width="600"]’n Geraamde foto-collage van die 2007 Rugbywêreldbeker is eerste opgeveil, maar het ’n skamele R200 gehaal.  Foto: Mieke Vlok ’n Geraamde foto-collage van die 2007 Rugbywêreldbeker is eerste opgeveil, maar het ’n skamele R200 gehaal. Foto: Mieke Vlok[/caption]

Twee geraamde afdrukke van kunswerke deur die Franse skilder Auguste Renoir is teen R50 vir albei saam verkoop. “Mevrou, ons het dié goed net so van die lorrie afgehaal nadat hulle gelaai is,” het Christie Botes, wat die veilig behartig het, gesê nadat een vrou wou weet waar die talle laaikaste en lessenaars se sleutels dan is.

Die duurste item wat verkoop is, is ’n paar stoele teen R4 500 vir die twee saam.

Nico se versameling plate, wat onder meer musiek deur Barbra Streisand, The Beatles, The Rolling Stones, Koos du Plessis en Chris le Roux insluit, is verdeel in ses pakke met 20 plate elk in. Hulle is verkoop teen tussen R70 en R110 per pak.

’n Tuimeldroër is teen R350 opgeveil en heelwat meubels soos laaikaste en lessenaars is teen ’n paar duisend elk verkoop. “Ai, en die ergste is, die oom en tannie gaan seker nie ’n sent van dié geld sien nie,” het nog ’n omstander laat val met verwysing na ’n paartjie wat ook beweer Nico skuld hulle geld.

Lees hier wat alles van Nico opgeveil is.