Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, het gehore tydens sy openingsnaweek omtrent in vervoering gehad. Die romantiese drama, wat 25 November landwyd in teaters begin draai het, het naas die romantiese komedie Vir Altyd vroeër vanjaar die tweede grootste openingsnaweek vir ’n Afrikaanse fliek behaal.

Die rolprent het die afgelope naweek meer as R1 miljoen by die loket laat inrol en is deur meer as 20 000 mense gekyk. Naas die Harry Potter splinterfliek Fantastic Beasts and Where To Find Them was dit boonop die tweede gewildste keuse onder Ster Kinekor se fliekgangers.

Resensente besing eweneens die rolprent se lof.

“Die fliek werk omdat dit so bekoorlik en sonder pretensie is,” skryf die bekende rolprentresensent Leon van Nierop in Rapport. “Dit probeer nooit meer wees as wat dit is nie. Dit gebruik ’n bekende resep en maak dit buitegewoon. Maar meer verblydend is die spelers wat hul rolle met soveel sjarme en gesag speel dat dit voel asof jy na regte mense kyk.

Luister na Vir die Voëls se aansteeklik temalied Hoeka Toeka

“Dit kry reg wat min Afrikaanse romantiese flieks kan regkry: om jou op ’n romantiese reis te neem wat so persoonlik is, jy vergeet dat jy na ’n rolprent kyk. Jy raak deel van die persoonlike vriendekring en jy kuier heerlik saam met jou soort mense.

“(Quentin) Krog (die regisseur) slaag vir een van die min kere in Afrikaans daarin om ’n romantiese storie gemaklik in Afrikaans te vertel.

“Vir die Voëls is louter plesier en bewys: ons het uiteindelik ’n romantiese rolprent gemaak wat oortuig en waarvoor jy nie skaam hoef te wees nie. Jy raak halsoorkop verlief daarop. Gaan kyk.”

Die kunsresensent Paul Boekooi skryf in Beeld: “Vir die Voëls is ’n lewensverrykende tydsdokument, ook ’n heel persoonlike een wat ons op die kronkelpad van die liefde neem, sonder om in ’n moeras van Afrikanersentiment vas te val óf deur ’n onverdedigbare idealisering van die verlede sy gesonde ingeslane koers kon verloor het.”

Kyk hoe skitter die sterre by Vir die Voëls se première

Dit is egter nie net Afrikaanse resensente wat beïndruk is met die fliek nie.

Volgens El Broide van People Magazine het die film soveel meer hart en emosie juis omdat dit op regte mense se verhaal gegrond is. “It’s one of the best Afrikaans films of 2016 and the audience are bound to leave the cinema with a huge smile on their faces. This is a must-watch.”

Die resensiewebtuiste Spling het die fliek agt uit tien sterre gegee en onder meer geskryf:

“The cast chemistry is fantastic, the production design is immersive, the nostalgic music will take people back, the story's verve is infectious, the performances are charming and heartfelt, the cinematography is effortless, the screenwriting is deft, the themes are universal and the direction is sensitive yet sensible.”

Fliekgangers het veral die naweek in die sosiale media gegons oor hoe die rolprent hulle laat lag en huil het en hoe dit die nostalgiese hartsnare roer. Baie ander het vertel hoe hulle hul eie stories in die fliek identifiseer.

Vir die Voëls is gegrond op die ware liefdesverhaal van Huisgenoot-lesers Irma en Sampie de Klerk van Newcastle. Irma het die leserswedstryd gewen waarin Huisgenoot inspirasie vir die fliek se draaiboek gesoek het.

In die fliek is Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in die laat 1970’s in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd geterg het. Tot kort tevore het sy vas geglo onafhanklikheid is die enigste vorm van vryheid, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oor haar oortuigings laat nadink.

• Vir die Voëls draai tans landwyd in teaters en is in samewerking met kykNetFilms en The Film Factory vervaardig.