Michelle en Christopher Pinto van Two Tales Animation het gesorg vir die ongelooflike spesiale effekte in Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls.

[caption id="attachment_148988" align="aligncenter" width="600"]Fotograaf: Tammy Mooney Fotograaf: Tammy Mooney[/caption]

1. Wat presies behels jul werk?

Vir Vir Die Voëls moes ons elemente in die film skep of byvoeg wat nie bestaan nie, en ander uithaal wat nie daar moet wees nie. Dit moet só gedoen word dat niemand dit agterkom nie.

2. Watter eienskappe het mens nodig om dié werk te doen?

Jy moet weet wat jy doen en ’n passie hê vir probleemoplossing! Ook geduld en ’n oog vir detail.

3. Hoe het julle besluit om hierdie werk te doen? Wou julle dit nog altyd word of het dit per geluk met jul gebeur?

Ons ateljee het oorspronklik meer gefokus op 3D-animasie. Maar toe ons die kans kry om die spesiale effekte vir ’n fliek te doen, het ons gedink -- waarom nie! Die uitdaging is heerlik en besluit om meer hiervan te doen.

4. Lekkerste deel van jul werk?

Die werk wat ons doen is áltyd ’n uitdaging en nooit dieselfde nie. En die filmbedryf ontwikkel teen ’n onsettende vinnige pas. Ons leer elke dag en word uitgedaag om beter en beter te word. Ons is nooit verveeld nie!

5. Uitstaan-oomblik op stel van Vir die Voëls?

Ons is die ware agter-agter-die-skerms ouens! So ons was nooit op stel nie.

6. Grootste uitdagings van jul werk in die algemeen?

Om nie bang te wees om waarlik uitdagende projekte aan te pak nie! Dit vat guts en ’n koel kop om groot projekte aan te pak en deur te sien tot die einde.

7. Grootste uitdaging op die fliek?

Daar is ’n paar skote waarin ons meer as 30% van die visuele elemente moes verander of vervang. Die grootste uitdaging hiervan is om dit op so manier te doen dat niemand dit agterkom nie, en hoe groter en langer die skote is, hoe moeiliker is dit om dít reg te kry. Ons moet basies ons werk wegsteek - soos skelms! Ons mag nie vingeradrukkie los nie.

8. Vorige projekte waaraan julle gewerk het?

The Jakes are Missing en Modder en Bloed.

9. Watter raad het jy vir ’n matriekleerling wat hierdie werk moontlik oorweeg? 

Die 3D-bedryf is oop om te ontdek. Jy hoef nie te wag tot ná skool of vir 'n graad nie. Kontak 'n ateljee wie se werk jou inspireer en gaan werk daar as 'n intern. Raak solank betrokke by 'n gemeenskap soos Blender - kry die program en spring in, dis verniet!

10. Voltooi die sin: “Vir die Voëls is vir my . . .

'n Film wat die hele familie sal geniet."

LEES OOK:  Vir die Voëls-fliek: ’n Dag in die lewe van ’n fliek-kunsontwerper