In die redigeringskamer is waar al die magic van ’n fliek bymekaarkom. En C.A. van Aswegen ’n redigeerder van Fix Post Production, het die towerwand geswaai vir ons eeufeesfliek Vir die Voëls.

1. Wat presies behels jou werk?

Nadat ’n fliek verfilm is, kom al die verskillende elemente na my toe. Dit is my werk om die legkaart van die film op die beste moontlike manier aanmekaar te sit.

Hoe die fliek geskryf en geskiet is, is nie noodwendig die beste manier om die storie te vertel nie. Met redigering verken ons al die verskillende opsies om tonele aanmekaar te sit, akteurs te help met spel en ritme, tegniese probleme op te los en om die gehoor deur die loop van die film te boei en mee te voer.

Hoe die film finaal gaan lyk, word in die redigeringsfase bepaal.

2. Watter eienskappe het jy nodig om dié werk te doen?

Baie geduld en deursettingsvermoë. ’n Goeie gevoel vir ritme en tempo, ’n fyn oog vir detail, ’n goeie begrip van storievertel en struktuur, en ’n emosionele volwassenheid.

3. Hoe het jy besluit om hierdie werk te doen? Wou jy dit nog altyd word of het dit per geluk met jou gebeur?

Ek het op filmskool verlief geraak op die proses van redigering, maar dit was absoluut per ongeluk dat ek daar opgeeïndig het! Net soos al die ander studente, het ek ook filmskool toe gegaan om ’n regisseur te word . . . sonder om regtig te weet wat dit presies behels. Maar dit was in die redigeringskamer waar ek my passie gevind het.

4. Wat is die lekkerste deel van jou werk?

Die ding wat ek die meeste geniet van my werk is om ’n film te sny en te skaaf, te manipuleer, te stoot en te trek totdat jou gehoor vergeet van hulle eie lewe en meegevoer word met die storie en emosie van die fliek.

Wanneer ’n gehoor hulself in ’n fliek verloor -- dis dan wanneer ek weet ek het my werk goed gedoen.

5. Uitstaan-oomblik op die fliek, Vir die Voëls?

Een van die lekkerste dele van hierdie fliek was die geleentheid om met sulke ongelooflike en nostalgiese musiektreffers te kon werk.

Elke keer as ons ’n nuwe liedjie in die film ingesny het, het ek sulke terugflitse beleef uit my eie kinderdae.

Ek dink die klankbaan van die film is ongelooflik!

6. Grootste uitdagings van jou werk in die algemeen?

Jy is die ‘last line of defense’ as die redigeerder. As jy nie die film kan máák werk nie, is daar niemand ná jou wat die probleme gaan oplos nie!

Die grootste uitdaging is dus om die fliek op die beste manier aanmekaar te sit en te maak werk. Maar wanneer jy dít regkry, is dit juis dít wat jou die meeste bevrediging gee!

Redigering word soms die onsigbare kunsvorm genoem, want hoe beter jy jou werk doen, hoe minder sien mense dit raak. En dit is hierdie ‘vermoë’ om gehore weg te voer wat een die grootste uitdagings is.

7. Grootste uitdaging van Vir die Voëls?

Hoewel die film redelik maklik bymekaar gekom het, was daar ’n paar interessante uitdagings.

Daar is heelwat visuele effekte in die fliek, en dit is altyd baie moeilik om die ritme en vloei van ’n toneel reg te kry waar groot dele van toneel nog nie daar is nie.

Die film het ook ’n interessante ritme. Waar ons ’n nostalgiese terugblik aan die 60's en 70's wou handhaaf, was dit ook belangrik om moderne gehore se visuele geletterdheid in ag te neem en nie die film te stadig te laat speel nie.

8. Vorige projekte waaraan jy gewerk het?

Die projekte wat my besig gehou het oor die laaste jaar sluit in Vir Altyd, Sy Klink Soos Lente, Jou Romeo. Ek was ook betrokke met Noem My Skollie.

9. Watter raad het jy vir ’n matriekleerling wat hierdie werk moontlik oorweeg? 

As jy hou van stories vertel, van karakters ontleed en om vir ure op jou eie te sit en werk aan dieselfde oomblik, dan is redigering definitief iets waarna jy moet kyk.

Dit is ’n eensame ondervinding om ’n fliek aanmekaar te sit, maar terselfdertyd ook geweldig belonend.

10. Voltooi die sin: “Vir die Voëls is vir my . . . 

Dis wat kan gebeur as jy nie net opgee nie, maar veg vir dit waarin jy glo.