As jy in die Suid-Afrikaanse mediabedryf werk, is die naam Alishia van Deventer van Starburst Promosies wel bekend!

Sy is die eienaar van Starburst Promosies en sorg vir die publisiteit rondom Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls.

Sy't al op talle van ons bekendste flieks gewerk soos Ballade vir ’n Enkeling, Vir Altyd, Pad na jou Hart en Modder en Bloed, maar sorg ook vir die publisiteit van bekende groepe en sangers soos ADAM, Joshua na die Reën, Vaughan Gardiner en Charlize Berg.

1. Wat presies behels jou werk? 

Ek en my span behartig die beplanning en implementering van die publisiteit rondom films en kunstenaars. Die uitreiking van ’n fliek of kunstenaar se albums word haarfyn beplan. Ons stel presiese tydlyne op, sorg dat als op die regte tyd gebeur en kommunikeer namens die fliekvervaardigers en kunstenaars met die media en die publiek.

2. Watter eienskappe het jy nodig om dié werk te doen?

Kreatiwiteit, deursettingsvermoë, goeie menseverhoudinge, kennis, vindingrykheid, aanpasbaarheid, geduld, beplanningsvermoë, empatie, passie en vriendelikheid.

3. Hoe het jy besluit om hierdie werk te doen? Wou jy dit nog altyd word of het dit per geluk met jou gebeur?

Ek het nog altyd in ’n bemarkingslyn gewerk, maar die vermaakbedryf het my nog altyd aangetrek. Ek is self musikaal, maar verkies om weg te bly van die verhoog en om liewer die dinge agter die skerms te behartig.

Ek het baie musikante en kunstenaars in die bedryf geken en in 2004 besluit dat die vermaakbedryf die wêreld is vir my! Aan die begin het ek eers net kunstenaars se besprekings hanteer, toe vir ’n platemaatskappy gewerk en só stelselmatig my weg oopgewerk in die rigting van publisiteit en bemarking.

4. Lekkerste deel van jou werk? 

Ek geniet dit baie om met mense te werk! Skakeling met die media, kunstenaars, vervaardigers, regisseurs ens. vorm die grootste deel van my werk. Dit is ook lekker om my eie ding te kan doen en nie elke oggend 06:00 in die motor te moet wees op pad na ’n kantoor nie.

5. Uitstaan-oomblik op stel van die fliek Vir die Voëls?

Die dag toe ons in Kragbron skiet en ek die span van kykNET se Bravo! na die stel moes neem om ’n agter-die-skerms-insetsel te skiet.

6. Grootste uitdagings van jou werk in die algemeen? 

Dit verg lang ure en ongelooflike toewyding. Soms verg dit ook om ’n wag voor jou mond te hou.

Omdat jy met verskillende temperamente en persoonlikhede van projek tot projek werk, moet jy aanpasbaar wees. Jou werk begin nie op ’n Maandag om 08:00 en eindig op ’n Vrydagmiddag om 17:00 nie. Ons werk hou aan. Jy moet basies alle ure vir jou kliënte beskikbaar wees, vertonings, premieres en bekendstellings reël en bywoon.

7. Grootste uitdaging op Vir die Voëls?

Om al die tydlyne uit te werk en seker te maak dat alles gebeur wanneer en soos dit moet.

8. Watter raad het jy vir ’n matriekleerling wat hierdie werk moontlik oorweeg? 

Doen ’n kursus in kommunikasiekunde en joernalistiek. En moenie dié tipe werk doen as jy net bekende mense wil ontmoet nie.

9. Voltooi die sin: “Vir die Voëls is vir my . . .

“...een van die mooiste Afrikaanse flieks wat ek tot nog toe gesien het!"