Vir die Voëls is nie net ’n aangrypende storie nie, maar ook ’n pragtig produksie om na te kyk. En die kunsontwerpers oftewel "key artists" speel ’n sentrale rol daarin om ’n spesifieke gevoel aan 'n fliek te gee.

Key Art vir Vir die Voëls

Ons gesels met Jacques 'Jay' Loots, die hoofontwerper van keyart.co.za. Die res van sy span bestaan uit illustreerder en 'storyboard'-kunstenaar, Israel Holtzhausen, junior-ontwerper, Ivann Pieterse, en die fotograaf, Wihan Ellmann.

1. Wat presies behels jou werk as sleutel-kunsontwerper op ’n fliek?

‘Key art’ is maar ’n bedryfsterm vir al die ontwerpe wat geskep moet word vir ’n film. Dit sluit als in van hoe die titel van die fliek ontwerp word tot die kleurskemas wat die fliek uiteindelik sy gevoel gee. Ons sorg ook vir baie van die fotografie wat in die fliek se bemarkingsmateriaal gebruik word.

Die bemarking van só ’n fliek kan enigiets van drie maande tot ’n jaar nadat produksie afgeskop het en die fliek uitgereik word, duur. Daar gebeur so baie in daardie bemarkingstydperk!

Ons is betrokke by die hele proses - van die beplanning, die verfilming tot selfs wanneer die fliek na die loket ook op DVD en op TV uitgereik word.

Ons 'storyboard'-kunstenaar, Israel Holtzhausen, beplan vooraf al die belangrikste verfilmingstonele saam met die regisseur en kinematograaf, en sit hierdie tonele om in sketse. Hierdie skets word op stel gebruik om die hele tegniese span te lei wanneer hierdie tonele eindelik geskiet moet word. Internasionale flieks word ook op hierdie manier visueel beplan.

2. Watter eienskappe het jy nodig om dié werk te doen?

Soos met enige ander beroep in die mediabedryf, het jy baie geduld en deursettingsvermoë nodig! Jy moet baie van koffie hou en met min van slaap oor die weg kan kom. En as jy op stel werk, is ’n liefde vir reis verseker ’n plus!

Jy moet ’n dik vel hê, want jy werk saam met baie kreatiewe mense en almal gaan nie altyd met jou saamstem nie. Jy kan nie dat so iets jou vermoë belemmer om jou werk te doen nie.

3. Hoe het jy besluit om hierdie werk te doen? Wou jy dit nog altyd word of het dit per geluk met jou gebeur?

Ek het van ’n baie jong ouderdom geweet dat ek in die wêreld van films en musiek wou werk. Ek het nog altyd my oë in daardie rigting geslaan en my voete het die pad gevind.

4. Lekkerste deel van jou werk?

Ons doen waarvoor ons lief is! Ons werk met movies . . . so ons kyk baie films en ons kry ook die geleentheid om kreatief te wees. Dis baie goed vir die siel.

5. Uitstaan-oomblik op stel van die fliek, Vir die Voëls?

Ons was ongelukkig nie self op die stel van die film nie.

6. Grootste uitdagings van jou werk in die algemeen?

Ons word die groot taak gegee om in een enkele beeld die hele produksiespan, skrywers, akteurs en ander mede-kunstenaars se visie voor te stel en die publiek te oortuig om die film te gaan sien. Sjoe, nou klop my hart sommer vinnig! Dis nogal stresvol om só daaroor te dink.

7. Grootste uitdaging op Vir die Voëls?

Ons groot uitdaging op hierdie film was om ’n fliekplakkaat te skep wat almal sou herinner aan die plakkate van die jare sewentigs. In daardie tydperk is die meeste plakkate met die hand geteken, geverf en met ink gedruk. Ons wou dieselfde gevoel skep.

Die uitdaging was dat ons dit als digitaal moes skep sodat ons nie enige kwaliteit in die proses verloor nie. Ons span werk baie nou saam met die regisseur om seker te maak ons bly almal op dieselfde bladsy en dat die bemarkingsmateriaal uit "dieselfde mond" praat.

8. Vorige projekte waaraan jy gewerk het?

Ons het voorheen aan al hierdie fliekprojekte gewerk:

Ballade vir ’n Enkeling, Hollywood in my Huis, Man Soos My Pa, Paw-paw vir my Darling, Vir Altyd, Die Ontwaking, Modder en Bloed, Uitvlucht, My Fathers War, Jou Romeo en natuurlik nou, Vir Die Voëls.

9. Watter raad het jy vir ’n matriekleerling wat hierdie werk moontlik oorweeg? 

Kyk baie films! Kyk na die produksie daarvan, volg plaaslike talent en gaan kyk films in die fliekteaters! Studeer fotografie en ontwerp, en oefen, oefen, oefen.

10. Voltooi die sin: “Vir die Voëls is vir my . . . "

Vir die Voëls herinner my aan die redes hoekom ek in die eerste plek verlief geword het op die silwerskerm.

LEES OOK:  Vir die Voëls-fliek: ’n Dag in die lewe van ’n spesiale effekte-kunstenaar