Die musiek in ’n fliek gee die storielyn vlerke en speel met jou emosies. Die komponis vir Vir die Voëls, Ben Willem, vertel meer oor sy wonderlike werk.

1. Wat presies behels jou werk?

Ek is ’n filmkomponis. Ek skryf musiek vir flieks, dokumentêre rolprente, advertensies en meer.

2. Watter eienskappe het jy nodig om dié werk te doen?

Kreatiwiteit, ’n verstaan van storievertel, die wil om te leer en aan te pas by verskillende fliekstyle, om jouself gereeld uit te daag en uit jou gemaksones te breek.

Lees ook: ’n Dag in die lewe van ’n redigeerder

3. Hoe het jy besluit om hierdie werk te doen? Wou jy dit nog altyd word of het dit per geluk met jou gebeur?

Ek het eers hierdie werk as ’n moontlikheid in graad 11 agtergekom! Sederdien het ek nog glad nie teruggekyk nie. Ek het BMus (Komposisie) studeer met die oog op musiek komponeer spesifiek vir flieks.

4. Wat is die lekkerste deel van jou werk?

Om temas en idees vir nuwe bladmusiek te na te vors, te skryf en dan te sien watter effek dit op mense het, veral as dit perfek by ’n storielyn pas.

5. Uitstaan-oomblik op stel van die fliek, Vir die Voëls?

Om te sien hoe talent en kreatiwiteit perfek bymekaarkom.

Lees ook: ’n Dag in die lewe van ’n spesiale effekte-kunstenaar

6. Grootste uitdagings van jou werk in die algemeen?

Die grootste uitdagings is ook dié dele waar ek die meeste pret het: Om ’n tema of musikale identiteit te skep wat nuut is, oorspronklik is. Dit help om die fliek tot die volgende vlak te neem, en ondersteun en versterk die storielyn.

7. Grootste uitdaging op die fliek, Vir die Voëls?

Die grootste uitdaging van Vir die Voëls spesifiek was om die tydperk waarin die fliek afspeel tesame met die korrekte emosies op die skerm vas te vang.

8. Vorige projekte waaraan jy gewerk het?

Ballade vir ’n Enkeling, Vir Altyd, Pad na Jou Hart, Hanna Hoekom, Hoofmeisie, ’n Man soos My Pa en talle meer. Ek het ook al gewerk aan verskeie programme vir National Geographic/ Discovery-TV-kanale asook ander plaaslike en internasionale werk.

Lees ook: ’n Dag in die lewe van ’n fliek-kunsontwerper

9. Watter raad het jy vir ’n matriekleerling wat hierdie werk moontlik oorweeg? 

Aanhouer wen! Doen die harde werk en byt vas. Daar sal dae wees waar jy voel of jy die wêreld kan oorwin en dan weer dae waar dit voel of niks reg uitwerk nie. Werk aan jou tegniese vaardighede en glo aan jou instinkte.

10. Voltooi die sin: “Vir die Voëls is vir my . . .

’n Fantastiese fliek en ’n heerlike projek."