DIE  wind suis behoorlik deur die populierbos hier in die Moolmanshoek-natuurreservaat op die Ficksburg-Rosendalpad in die Oos-Vrystaat. In ’n oop kol in die bos sit die 120 huweliksgaste op lae houtbankies. Hulle kyk kort-kort op na die donker wolke bo hul kop, want ’n rukkie tevore het ’n vinnige reënbui uitgesak en die veld ruik nog klam.

Dan kyk hulle in die rigting van die naderende hoefslae. Dis Ludwig Oberholzer op sy Arabiese spogperd, Maverick Schal. Perd en ruiter kom haastig nader deur die veld, en g’n wonder nie, want Ludwig was al in 2009 een van die hubare vrygeselle in die tweede seisoen van kykNET se Boer Soek ’n Vrou. Toe kon hy nie ’n bruid kry nie, maar vandag is die groot dag eindelik hier.

Ludwig klim by die hek af en groet ’n paar vriende voor hy langs die heining op sy bruid gaan wag. Sy oë is rooi van emosie. “Seker maar die hitte,” maak hy skaam verskoning toe hy die klammigheid wegvee.

Dan klink daar nog hoefslae op. Dis die 31-jarige Zelma Lötter, ’n tegniese adviseur by ’n veemaatskappy op Senekal. Haar wit rok vloei oor die rug en stert van haar perd, Janor Silwer Fagr. Sy hou by die hek stil, gly uit die saal en stap haar bruidegom tegemoet.

Tydens sy boodskap sê ds. Werner Redelinghuys van die NG gemeente Ficksburg:  “Op hierdie dag herinner die Groot Outeur van die liefde ons dat Hy mense vir mekaar gegee het om mekaar lief te hê.”

Toe die verliefde paartjie die ringe aan mekaar se vingers steek, weergalm Johan Brink se trompetklanke deur die bos. Dis  Koos du Plessis se lied Gebed.

Net voor sonsondergang kuier die gaste met ’n drankie in die hand op die groot grasperk voor die klipsteen-onthaalgedeelte naby die populierbos. ’n Sweepklap en ’n gedreun van perdehoewe laat hulle stil word. ’n Trop van honderd perde hardloop reg voor die gaste verby.

Agter die trop kom Ludwig en Zelma op hulle eie perde aangejaag, maak ’n spoggerige draai en kom halt voor die gaste. Ludwig klim eerste af en help dan sy bruid uit die saal terwyl hy breed en gelukkig glimlag.

Ja, hy het eindelik sy “wow-vrou” ontmoet, vertel Ludwig later die aand terwyl die gaste weglê aan tradisionele kos soos skaapvleis, hoenderboudjies, rys en ’n verskeidenheid groente en slaaie. Weg van die werklikheidsreeks se kameras . . .

[post-slider]

Hy onthou presies hoeveel briewe van hoopvolle meisies hy in 2009 as een van die “trofeemanne” van Boer Soek ’n Vrou gekry het, sê hy. “Altesaam 297, maar dit was maar ’n gesukkel om 10 briewe te kry wat ek gedink het die moeite werd is.”

Die boks briewe staan nog iewers in sy Vrystaatse opstal. Sy moet dit nog gaan weggooi, spot Zelma.

Sy wow-vrou was nou wel nie een van daardie briewe nie, maar min het hy toe geweet dat hy haar jare tevore al ontmoet het.

Hy en Zelma het mekaar een aand in Julie 2005 om die kampvuur ontmoet tydens die jaarlikse wêrelduithouwedren op Fauresmith, waaraan hulle as ywerige perderuiters albei deelgeneem het.

Sy was die beeldskone student aan die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein, besig met die derde jaar van haar B.Sc.-landbougraad.

Hy was die hubare jong polisieman van die Rosestad wat as ’n geheime agent gewerk en onder meer een van die grootste diamantsmokkelnetwerke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis op Alexanderbaai gaan oopvlek het.

Die TV-dramareeks Vloeksteen, wat vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai is, is op sy avonture gegrond.

Ja, hul liefdesbootjie het hul hart ewe ongesiens as ’n diamantsmokkelaar binnegevaar, spot Zelma. Ná daardie ontmoeting tydens die perdeveldrit in 2005 het hulle as vriende kontak behou, maar daar was nie naastenby sprake van ’n verhouding nie.

Maar die afgelope jaar, met Boer Soek ’n Vrou lankal iets van die verlede, het hulle ál meer saam gekuier. “Toe ons sien, is ons verlief en in ’n verhouding,” vertel hy.

In Junie vanjaar vertel hy haar dat hy iets vir haar gekoop en iewers in die huis weggesteek het; sy moet dit gaan soek. Ure later ontdek sy toe die diamant in ’n laai. Toe vra sy vir hom: “Gaan jy dit dan nie in ’n ring sit nie?”

Nadat die ring later gemaak is, wou hy toe ewe weet: “Nou gaan jy dit nie dra nie?”

“Dit is maar ons storie: eenvoudig en sonder fieterjasies,” sê Ludwig hier op sy troudag. Hy is maar net ’n doodgewone boer en ’n oudpolisieman, maar wat hy wel intussen van verhoudings geleer het, is om niks uit selfsug te doen nie. “Die een moet altyd die ander een hoër as die eie ego ag.”

Net buite die onthaalgedeelte runnik Ludwig en Zelma se perde waar hulle saam in een kraal staan . . .

Deur Jaco Hough-Coetzee

Foto's: John Liebenberg

Die egpaar bedank: Moolmanshoek-natuurreservaat (Onthaalplek) 051-933-2220; Klein Doolhof Wyne (wyn) 083-443-1061; The Jewel Box (Bruid en bruidegom se ringe) 053-832-1731; All in One Party Hire (Saalversierings) 082-218-1110; Dusty Pics (Fotografie) 082-389-9893; Lucy’s Sewing Studio (Bruid se rok) 034-325-9219