Maar het jy al ooit gedink dat jou geliefde troeteldier dalk self ook aan spanning kan ly?

Dis tyd om ’n bietjie fyner op jou dierevriend se optrede te let.

Lees ook: Ly jou hond dalk aan depressie?

Jolanta Benal, ’n hondeafrigter, sê dat jy nooit ’n hond moet nader of aanraak as jy die wit van sy oë kan sien nie. Dis gewoonlik ’n teken van spanning en dat die hond bekommerd is oor die teenwoordigheid van ’n mens of selfs ’n ander dier.

Kwyl is ook nie noodwendig ’n teken dat jou hond naar is of dalk tandeprobleme het nie. Dit, asook oormatige haarverlies, is ook tekens dat jou hond senuweeagtig is.

Wees ook op die uitkyk na oordadige gelek aan hul geslagsdele. Dit is wel so dat dit deel van ’n hond se skoonmaakroetine is, maar as dit te gereeld of voortdurend gebeur, is die kans goed dat jou hond bang voel.

Lees ook: Kyk hoe red hond eienaar met Asperger-sindroom van gewelddadige ineenstorting

Turid Rugaas, ’n Noorweegse hondeafrigter, stem saam dat sekere optredes, veral in oormaat, beslis tekens van uitermatige of ongesonde spanning by honde is.

Sy sluit ook bewerasie (wanneer dit nie koud is nie), skilfers, rooi oë, aggressie, ’n gekou aan die halsband, opgeblasenheid en gespanne spiere by haar lys kenmerke in.

Honde wat alleen tuis gelaat word, kan ook spanning ervaar. Hulle is sosiale wesens en geniet interaksie. Turid sê minstens ’n halfuur se speeltyd elke dag sal spanning help verlig. Maar sy maan daarteen om dit te oordryf. Maak seker jy handhaaf ’n goeie balans tussen speel en rus.

Verandering in omgewing kan ook spanning veroorsaak. Sy stel voor dat jy buigsaam en vol vergifnis moet wees die eerste paar weke nadat jy ’n nuwe hond aan- of ingeneem het.

Lees ook: Band tussen tegnologie en depressie gevind

Wees konsekwent met jou hond. Ongereelde tye waarop kos voorgesit word, kan ook tot frustrasie lei.

Maak seker jou geliefde troeteldier gaan minstens jaarliks vir ’n deeglike ondersoek deur die veearts. Soms kan pyn of selfs beserings tot onnodige aggressie lei. Jy is dalk nie noodwendig teenwoordig wanneer ’n besering opgedoen word nie, en so lief en dierbaar soos jou geliefde troeteldier kan wees, kan hy jou nie daarvan vertel nie.

Dit is baie belangrik om in ag te neem dat jou hond ook jou gemoedstoestand en spanning kan aanvoel. Dus, konsentreer op jou eie asemhaling en neem doelbewus diep, gereelde asemteue. Dit sal jou hond ook help ontspan.

Terloops, daar word ook na goeie en slegte spanning verwys. Goeie spanning is wanneer jou hond ’n verhoogde sensasie van waaksaamheid ervaar, op en wakker is en ’n nuwe taak leer wat vertroue aanwakker.

Slegte spanning is verhoogde reaksie, hiper-waaksaam, irritasie en die onvermoë om bevele aan te leer.

’n Paar faktore wat spanning by jou hond kan veroorsaak:

  1. Moenie jou hond straf wanneer hy doen wat ’n hond gewoonweg sou doen nie. Moet byvoorbeeld nie kos binne reikafstand los as jy weet hy gaan dit beslis eet nie.
  2. Sê net een keer nee. ’n Klomp nees word bloot as ’n onderbreking ervaar, nie as ’n versoek of opdrag nie.
  3. Ken een woord aan ’n bevel toe. Moenie dink jou hond gaan noodwendig verstaan as jy “loop lê” met “gaan bed toe” afwissel nie.
  4. Moenie gereeld aan jou hond se leiband rem of trek nie. Wees bedag daarop dat daar iewers gestop en geruik gaan word.
  5. Moenie jou hond aanstaar nie. Jy weet self hoe ongemaklik dit is wanneer mense jou aanstaar.
  6. ’n Vingerwysery of -skud is ’n universele teken wat spanning by honde aanwakker. Terwyl jou hond dalk skuldig kan lyk as jy dit doen, is jou hond eintlik waaksaam, verward en gespanne.

Wat jy kan doen om spanning te verlig

  1. Maak seker jou hond is nie honger, dors of wangevoed nie.
  2. Sorg vir voldoende skuiling teen die elemente.
  3. Laat jou hond toe om normaal op te tree – met genoeg ruimte om in rond te hardloop, te speel en interaksie met ander te hê. ’n Honde-“speelafspraak” is ’n goeie idee.
  4. Jy is jou hond se voog. Aanvaar dus verantwoordelikheid vir sy interaksie met die omgewing en ander lewende wesens.
  5. Geniet tyd saam met jou beste maat.
  6. — Annelene Oberholzer

    Bronne: quickanddirtytips.com, whole-dog-journal.com, healthypets.mercola.com, greenacreskennel.com

    Ook op Huisgenoot.com:

    Kyk: Troufotograaf vang roerend ouers se ‘belangrikste oomblik’ vas toe hy hul sterwende baba afneem

    Eksklusief: Ontmoet Koekedoor 2 se tien nuwe deelnemers

    Is dié een van die wreedste of oorspronklikste poetse ooit?

    ‘Papierman’ omskep Britse stede in bekende Disney-tonele

    Ons kan heelwat by dié 4-jarige gimnas leer

    Mense ‘woedend’ ná wag vuurwapen ‘per ongeluk’ laat afgaan en twee seuns beseer

    Derek die kaal krimpvarkie kry sy penne terug!