robbeneiland

Maar nog lank voor politieke gevangenes uit die ou Suid-Afrika daar aangehou is, was dié piepklein eilandjie in Tafelbaai al ’n plek van afsondering en gevangenskap. Meer as 350 jaar lank is politieke aktiviste, sosiale uitgeworpenes en siekes daarheen gestuur.

Die Nederlanders het Robbeneiland dié naam gegee omdat daar baie robbe voorgekom het. Maar die geskiedenis van Robbeneiland strek verder terug as die Nederlandse tydperk toe Jan van Riebeeck in 1652 ’n halfwegstasie aan die Kaap kom stig het. Duisende jare gelede was Robbeneiland deel van die vasteland. Die oermense kon droogvoets van Tafelberg na Robbeneiland stap! Die eiland het dus nie uit enige vulkaniese aktiwiteit ontstaan nie; die stygende seevlak en erosie deur die wind en golwe het dié gebied mettertyd van die vasteland geskei.

’n Gevangenis

Die Nederlanders het Robbeneiland eerste as ’n gevangenis gebruik. Daar word algemeen aanvaar Harry die Strandloper was die eerste gevangene daar nadat hy aan veediefstal skuldig bevind is. Later het die Britte tydens hul bewind van die Kaap (1795 tot 1803 en weer van 1806 af) ook die eiland as ’n gevangenis gebruik.

’n Plek vir siek mense

Omdat die eiland afgesonder is, is “ongewenste” mense tussen 1845 en 1931 daarheen gestuur. In 1845 is die melaatse gemeenskap Hemel-en-Aarde van Caledon na die eiland verskuif.

’n Vlootbasis

Ná die Tweede Wêreldoorlog is Robbeneiland as ’n opleidingsentrum vir ons vloot gebruik en ’n veerbootdiens tussen Kaapstad en die eiland is ingestel. Mense kon permitte kry om die eiland te besoek.

’n Politieke gevangenis

In 1959 is die eiland onder die jurisdiksie van die departement van gevangenisse geplaas en kon die publiek dit nie meer vrylik besoek nie. Mandela is in 1964 daarheen gestuur nadat hy in die Rivonia-verhoor skuldig bevind is aan sabotasie en hoogverraad. Hy is lewenslange tronkstraf opgelê. In 1982 is hy na die Pollsmoor-gevangenis in Tokai, Kaapstad, oorgeplaas en in 1988 na Victor Verster (nou Drakenstein) in die Paarl, waaruit hy in 1990 vrygelaat is.

Robbeneiland vandag:

Die vuurtoring

Baie skepe het by Robbeneiland op die rotse geloop; daarom het Jan van Riebeeck destyds besluit om snags vure op die hoogste punt van die eiland te laat brand om nadere skepe teen die gevare te waarsku.

Natuurlewe op die eiland

Met Van Riebeeck se koms na die Kaap was pikkewyne en robbe die enigste groterige diere op die eiland. Twee jaar later, in 1654, het koloniste konyne op die eiland losgelaat as ’n bron van vleis vir besoekende matrose. Hierdie Europese konyne het vinnig aangeteel; katte is toe ook na die eiland gebring en hulle het die konyngetalle in toom gehou.  Die katte het ongelukkig ook kwaai onder die seevoëls gemaai en teen 1800 het die oorspronklike kolonie brilpikkewyne uitgesterf.

Intussen is die brilpikkewyn (ook bekend as die Afrika-pikkewyn of die Kaapse pikkewyn) op die eiland hervestig en het die kolonie tot sowat 13 000 aangeteel; dit is die derde grootste kolonie van dié spesie. Die pikkewyne kan van nader in hul natuurlike habitat gesien word en is ’n trekpleister vir toeriste.

Sedert 1958 is verskeie diere na die eiland geneem, maar omdat die konyne die eiland van plantegroei gestroop het, het ander diere gesukkel om daar te oorleef. Springbokke en bontebokke het gevrek omdat te min groenigheid vir hulle oor was om te vreet.

Drastiese stappe is sedert 2009 gedoen om die konyngetalle onder beheer te kry.

Baie molslange, dassies, springbokke en verskeie voëlspesies leef nou daar. Baie is ook al gedoen om die eiland se ekologie te herstel na hoe dit eeue gelede was.

In 1991 is Robbeneiland tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar en die norrdelike deel van die eiland is nou ’n voëlreservaat.