’n Amerikaanse webtuiste vir aanlyn afsprake laat jou nou toe om lelike en oorgewig mense uit jou soektog vir “die een” weg te laat.

OkCupid.com vra gebruikers ’n premie van sowat R50 vir dié diens. Dan steek die webtuiste enigiemand weg wat hulself as “met kurwes”, “slank”, “maer” of “opgebruik” beskryf, alles volgens jou voorkeure.

Gebruikers kan ook mense filtreer volgens hul liggaamsbou en aantreklikheid – soos deur ander gebruikers bepaal. ’n Anonieme OkCupid.com-gebruiker het aan DailyMail.co.uk gesê dit ontstel haar dat mans haar kan uitskakel op grond van haar liggaamsbou.

“Tog plaas dié soekfunksie baie vertroue daarin dat mense hulself akkuraat beskryf. Ek was self nog baie gelukkig dat elke ou wat ek deur dié webtuiste ontmoet het, soos die foto op hul profiel gelyk het. Ander mense het al ’n paar aaklige verrassings beleef wanneer hulle die persoon vir ’n regte afspraak ontmoet.”

5 wenke vir jou kuberafspraakprofiel

  1. Die naam: Jy mag ’n vriendelike, snaakse ou of meisie wees wat ’n webtuiste vir aanlyn afsprake besoek. Maar dis nie nodig om dit deel van jou naam te maak nie, NiceGuyTom889. Wys wie jy is; dis nie nodig om dit in jou naam uit te spel nie!
  2. Die foto: Moenie ’n vals indruk skep deur ’n foto van jouself op te laai wat vyf jaar gelede geneem is net ná jy die haarsalon besoek het nie. Vermy ook liefs die “selfie”, veral een in ’n spieël waar die kamera ook sigbaar is. As jy selfvertroue het, sal dit uit die foto straal, al wil jy nog graag ’n paar ekstra kilo’s afskud.
  3. Die vrae: Wees spesifiek. Jou profiel sê dalk jy hou van fliek, vakansie hou en om langs die strand te loop, maar jy bedoel dalk kunsflieks met onderskrifte, en met vakansie hou bedoel jy langs ’n tropiese strand lê pleks van ’n vrywilligersvakansie in Nepal.
  4. Vermy te veel byvoeglike naamwoorde om jouself te beskryf. Slim, oulik, snaaks, nuuskierig, atleties, georganiseerd, sagmoedig en pret! Jy moet darem iets van jouself geheim hou wat jy op die eerste afspraak kan deel.
  5. Gebruik ’n woordeboek: Jou profiel is nie ’n SMS of WhatsApp-boodskap nie! Jy sal ook heelwat intelligenter voorkom as jy reg spel.

Bronne: Dailymail.co.uk, gq.com, en chicagonow.com

Lees oor ons aanlynafspraakblogger se ervarings op die internet op Huisgenoot.com.