As ma weet jy ’n betowerende oomblik verg nie ’n materiële geskenk nie, maar dit is soms lekker om vir jou maat ’n blyk van jou liefde en waardering te gee (en een in ruil te kry!) Hier is ’n paar geskenkidees.

Dink buite die boks

Bederf die man in jou lewe met ’n ervaring, want iets tasbaars is nie altyd die antwoord nie. In luukse skeerwinkels kan mans gepamerlang word sonder die “vrees” dat hulle moet spa toe gaan. Barbiers soos The Old’e English Shaving Shop (shavingshop.co.za) bied mans die ervaring van skeer met ’n warm handdoek, afskilferbehandelings en haarsnitte. Jou man kan die weelde van skeer en hare sny in ’n ouwêreldse barbierwinkel ervaar. En as hy van materiële goed hou – hulle verkoop ook wonderlike handgemaakte versorgingstelle en skeergoed.

Dink binne die boks

’n Verpersoonlikte geskenkboks is ’n wonderlike manier om romantiese dae soos Valentynsdag te vier. Pas ’n boks nsa jou maat se smaak aan deur hul gunsteling- whiskey, goeie wyn of peuselgoed te kies. ’n Romantiese gebaar vir twee is ook ’n lekker idee. As jy ’n bietjie hulp nodig het, klop aan by The Perfect Box (www.theperfectproposal.co.za/the-perfect-box).

Vertel jul verhaal

In ’n era waarin ons met sosiale media oorlaai word, vergeet ons dikwels die eenvoudige genot van ’n foto – ’n regte foto, nie een wat op Facebook gelaai is nie. ’n Mooi swart-wit foto is tydloos en sentimenteel. Dis ’n ware wenner: Hy sal van ’n mooi kiekie van hom hou en jy kry ’n dekorstuk by.

Die pad na ’n man se hart . . .

Ja, ons weet dis deur sy maag. Daarom is die deel van ’n nuwe koservaring ’n uitstekende manier om gehaltetyd saam deur te bring en ook pret te hê terwyl julle iets anders doen. Kooklesse is baie leersaam en hope pret vir pare. Kontak ’n kookskool naby jou en ervaar ’n romantiese aandete vir twee. Ons hou van die idee dat jy leer, kook en die maaltyd saam geniet. Doen navrae en kyk rond vir ’n kursus wat in jul smaak val en jul lewenstyl en sak pas.

Vir nog idees, besoek theperfectproposal.co.za of stuur ’n e-pos na theperfectproposal.co.za.

- www.you.co.za 3 Oktober 2013